Die Franse Formule Een-renjaer Romain Grosjean sê hy het aan Niki Lauda se gru-ongeluk gedink en danksy pure wilskrag uit sy brandende Haas-renmotor ontsnap ter wille van sy kinders ná sy ongeluk in Sondag se Bahreinse Grand Prix.

Romain Grosjean word ná sy ongeluk in ’n ambulans na die hospitaal vervoer. Foto: Getty Images
“Ek het die dood sien kom. Dit was alles oranje, die vlamme rondom my en Niki Lauda se ongeluk het by my opgeduik, ek het besluit ek wou nie so opeindig nie,” sê die 34-jarige pa van drie.
“Ek moes eenvoudig daar uit, ter wille van my kinders. Ek het die dood sien kom, ek het geen ander keuse gehad as om uit daardie brandende wrak te klim nie.”
Grosjean se Haas-renmotor het kort ná die wegspring kontak gemaak met Daniil Kvyat se Alpha Tauri. Dit het toe ’n veiligheidsreling getref, in twee geskeur en oombliklik aan die brand geslaan.
Die Fransman was ’n hele paar sekondes in die brandende motorwrak voordat die Suid-Afrikaner Alan van der Merwe, die bestuurder van die mediese motor, hom uit die wrak gehelp het.
Hy het deur die vlamme oor die reling geklim en is onmiddellik deur die mediese span weggelei nadat ander beamptes die brand probeer blus het.
Dit het herinner aan Lauda, wenner van drie F1-wêreldtitels, wat erge brandwonde en geskroeide longe opgedoen het in ’n ongeluk in 1976 in die Duitse Grand Prix.
Die Oostenryker, wat verlede jaar op die ouderdom van 70 dood is, was slegs ses weke later terug in sy Ferrari met sy wonde steeds in verbande en aan die herstel.
Grosjean, wat gelukkig net ligte brandwonde aan sy hande en enkels opgedoen het, sê sy ongeluk voel soos ’n “wedergeboorte” wat ’n letsel vir die res van sy lewe sal laat.
Grosjean, wat Woensdag uit die hospitaal ontslaan is, verlaat F1 volgende seisoen. Die Haas-plaasvervanger Pietro Fittipaldi sal vir hom instaan in die komende naweek se Sakhir Grand Prix.
Maar Grosjean is oorgehaal om terug te keer vir die laaste wedren van die seisoen in Abu Dhabi op 13 Desember, waarskynlik sy swanesang.
“Dit is inderdaad moeilik vir diegene naby aan my, maar ek het nodig om weer in ’n F1-motor te klim, om te sien waar ek is en te bepaal of ek in die toekoms kan aanhou bestuur,” sê hy.
– Reuters