
Romain Grosjean se brandende motorwrak in Sondag se Bahreinse F1-Grand Prix. Foto: Reuters
Die Bahreinse Formule Een-Grand Prix is Sondag vir ’n lang ruk gestaak nadat Romain Grosjean (Haas) in die derde draai van die eerste ronde van die baan gejaag en sy motor aan die brand geslaan het nadat hy in ’n veiligheidsreling vasgejaag het.
Grosjean was ’n hele paar sekondes in die brandende motorwrak, wat in twee gebreek het, voordat die Suid-Afrikaner Alan van der Merwe, die bestuurder van die mediese motor, hom uit die wrak gehelp het.
Hy het deur die vlamme oor die reling geklim en is onmiddellik deur die mediese span weggelei nadat ander beamptes die brand probeer blus het.

Beamptes in Bahrein besig om op te ruim met Romain Grosjean se opgefrommelde motorwrak, wat in twee gebreek het, steeds in die veiligheidsreëling vasgepen. Foto: Reuters
Grosjean het ligte brandwonde aan sy hande en enkels opgedoen en word tans behandel.
Die ren is gestaak terwyl noodsaaklike herstelwerk aan die veiligheidreëling gedoen is. – Sportredaksie