Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Hamilton se hulde aan Lauda

Dis mos hoekom Formule Een-motorrenne so gewild is!

Die speelplek van die superrykes. Foto: Reuters

Lewis Hamilton (Mercedes) het Sondag in Monte Carlo die Monaco Grand Prix gewen in ’n dag propvol drama.

Hamilton het baie diep gedelf en moes weer sy uitsonderlike bestuursvernuf tot die uiterste beproef voordat hy eerste verby die geruite vlag kon jaag en sy oorwinning aan die ontslape legende en sy mentor, Niki Lauda, kon oordra.

Lewis Hamilton kry ’n kus op die wang van prinses Charlene van Monaco.Foto: AP

Ferrari se Sebastian Vettel was tweede, wat die einde beteken het van Mercedes se ongelooflike een-twee-oorwinnings in die eerste vyf renne vanjaar.

Hamilton se spanmaat, Valtteri Bottas, was derde en Max Verstappen (Red Bull) is vierde geplaas nadat hy tweede oor die eindstreep gejaag het.

Verstappen is egter met vyf sekondes gestraf nadat hy vroeër Bottas se reg van weg versper het ná ’n kuipestop en hul motor liggies gebots het.

“Dit was beslis die strafste ren waarin ek nog gejaag het. Nieteenstaande het ek met Niki se vegtersinstink bly veg,” het Hamilton op die podium gesê net voordat hy in ’n swembad langs die baan gespring het.

Dis vir jou Niki! Lewis Hamilton (Mercedes), wat Sondag met ’n rooi valhelm ter ere van die ontslape Niki Lauda gejaag het, het sy oorwinning in die Monaco Grand Prix aan Lauda opgedra.Foto: Reuters

“Ek weet hy (Lauda) sal afkyk en sy hoed oplig. Ek het probeer om gefokus te bly en hom trots te maak,” het Hamilton oor die 70-jarige Lauda se afsterwe Maandag gesê.

Hamilton, ’n vyfmalige wêreldkampioen, het sy voorsprong bo Bottas op die kampioenskapspunteleer tot 17 punte vergroot.

Hamilton, wie se medium bande hom enduit groot kopsorge besorg het, is twee rondtes voor die einde byna deur Verstappenn verbygesteek.

Hamilton het aanhoudend by sy span oor die toestand van sy bande gekla.

“Ek weet nie wat julle dink om met dié bande te volhard nie. Julle moet op ’n wonderwerk hoop,” het Hamilton geneul.

Maar Hamilton, wat met ’n rooi valhelm ter ere van Lauda gejaag het, het enduit voorgebly.

“Dit was ongelooflike bestuursvernuf. Daar is niemand anders wat dit sou reggekry het nie,” het Mercedes se hoof-strateeg, James Vowles, gesê.

Ferrari se Charles Leclerc, wat 16de weggespring het, het aan die begin vir groot opwinding gesorg toe hy reeds in die sewende rondte tot die 12de posisie opgeskuif het.

Maar hy het die dure prys betaal toe hy Nico Hulkenberg (Renault) ook probeer verbysteek het en sy motor ’n

lekband opgedoen het. Sy drome was toe daarmee heen.

Red Bull se Pierre Gasly was vyfde, Carlos Sainz in ’n McLaren sesde, gevolg deur Daniil Kvyat en Alexander Albon (albei Toro Rosso).

Die Italiaanse Grand Prix word Sondag in Mugello beslis. – Reuters

Meer oor:  Monte Carlo  |  Grand Prix  |  Formule 1  |  Motorsport
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.