Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Hokkie was Protea-speler se plan
Sinalo Jafta in aksie in ’n toerwedstryd vir Suid-Afrika in 2016 in Australië. Foto: Getty Images

Toe die Protea-krieketspeler Sinalo Jafta in haar matriekjaar ’n hokkiebeurs kry om by die Puk te gaan studeer, het sy gedink haar krieketdae is iets van die verlede, maar toe gebeur iets “onvoorsiens” aan die einde van daardie jaar.

Die 25-jarige Jafta, ’n oudleerling van Stirling High School in Oos-Londen, is aan die einde van haar skoolloopbaan in 2012 nie net vir die Suid-Afrikaanse o.19-krieketspan gekies nie, maar ook aangewys as kaptein van die span.

Dit het haar plannetjies vir haar toekoms deurmekaargekrap. Op skool het sy hokkie en krieket gespeel en die SA Skolespan in hokkie verteenwoordig.

Toe ek weer kyk, toe speel ek vir Noordwes krieket, dit terwyl ek steeds hokkie ook speel en boonop tussendeur studeer.

“Toe ek as kaptein aangewys word, toe dag ek by myself, wat nou? Maar ek is Potchefstroom toe sonder enige kriekettoerusting, ek het nie ’n kolf saamgevat nie, niks nie, want ek sou net hokkie speel.

“Met ’n hokkieoefening (by die Puk) het ek ’n Grens-kriekethemp aangehad en iemand van die Noordwes-krieketunie het my genader en uitgevra daaroor.

“Toe ek weer kyk, toe speel ek vir Noordwes krieket, dit terwyl ek steeds hokkie ook speel en boonop tussendeur studeer,” sê Jafta, ’n paaltjiewagter en kolwer.

Een ding het tot ’n volgende gelei en in 2016 het sy haar buiging vir Suid-Afrika in krieket gemaak, terwyl sy steeds hokkie ook gespeel het.

“Dit was erg, ek weet nie hoe ek by alles uitgekom het nie. In 2016 het ek WhatsApps van Sheldon (Rostron, toe die SA hokkiebreier) gekry wat gevra het of ek ’n oefenkamp in Desember 2016 sal bywoon.

Sinalo Jafta, hier in aksie vir die Suid-Afrikaanse Opkomende span in 2019, se plan was om krieket ná skool vaarwel te roep. Foto: Gallo Images

“Ek het, maar kort ná daardie kamp (Februarie 2017) het ek besef dat ek nie meer albei sportsoorte kan doen nie en ek het hokkie gelos,” sê sy.

Jafta, wat ’n nasionale kontrak by Krieket Suid-Afrika het, erken dit was moeilik toe sy vroeër vanjaar nie in die Protea-span ingesluit is wat aan die T20-Wêreldbekertoernooi in Australië gaan deelneem het nie.

“Dit was baie pynlik om die oproep te kry en te hoor dat ek nie die span gemaak het nie. Ek bedoel, wie speel en hoop nie om die span te haal nie?

“Maar miskien was dit my net nie beskore nie, ek weet egter dat ek hard gewerk het. Daar is weer ’n WB (in eendagkrieket wat in Februarie 2021 in Nieu-Seeland begin) en hopelik kan ek in die komende maande bewys dat ek in die span hoort,” sê sy.

Die 31-jarige Trisha Chetty is die afgelope ruk die Proteas se eerstekeuse-paaltjiewagter, maar Jafta kan dalk in die afsienbare toekoms kans kry om ’n meer permanente lid van die span te wees.

Jafta is darem nie heeltemal vir hokkie verlore nie, en is deesdae as konsultant betrokke by die afrigting van dié sport by die HTS Drostdy in Worcester in die Kaap.

Meer oor:  Hokkie  |  Puk  |  Vrouekrieket  |  Protea-Vrouekrieketspan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.