Mike Tyson het nou sy “opwarmingsgeveg” gehad en nou moet hy ’n derde keer teen hom baklei, sê Evander Holyfield.

Evander Holyfield steek weer hand op om teen Mike Tyson te veg. Foto: Getty Images
Die 58-jarige Holyfield het sy hand al opgesteek vir ’n geveg teen Tyson sedert nuus vroeër vanjaar rugbaar geword het dat “Iron Mike” sy terugkeer tot die bokskryt gaan maak.
“Ons het die geveg probeer reël, maar het niks anders as verskonings gekry nie. Nou kan ek sien waarom hy eers ’n opwarmingsgeveg wou hê voordat hy aan my wou dink,” sê Holyfield in ’n verklaring.
Tyson het Saterdag in ’n vertoongeveg in Los Angeles gelykop teen Roy Jones jr. geboks.
“Roy Jones was ’n goeie teenstander, maar ’n geveg teen my sal ’n wêreldgebeurtenis wees,” sê Holyfield.
Hy en Tyson het in hul fleur twee keer teen mekaar geboks, met Holyfield wat een keer met ’n tegniese uitklophou gewen het en Tyson wat een keer gediskwalifiseer is omdat hy Holyfield aan die oor gebyt het.
“Geen verskonings meer nie. Dit is die geveg wat moet gebeur vir ons albei se nalatenskap,” sê Holyfield.
“Jy het Saterdag gesê jy is reg om teen my te baklei, so teken die kontrak. Die wêreld wag op jou skuif, Tyson.” – Reuters