
Andy Birkett en Khumbulani Nzimande roei Donderdag sterk in die eerste skof van die Dusi-kanomarathon in KwaZulu-Natal. Foto: Gameplan Media
Die mans- en vroue-roeipare wat vooraf as Dusi-gunstelinge uitgesonder is, het Donderdag dié status in die eerste skof van die kanowedvaart gestand gedoen.
Andy Birkett en Khumbulani Nzimande was die wenners van die skof oor 42 km van Pietermaritzburg na die Dusi-brug, terwyl Cana Peek en Christie Mackenzie ten spyte van ’n paar dramatiese oomblikke bobaas was in die vroueafdeling.

Die Mission Rapid-stroomversnelling het heelparty deelnemers hoofbrekens besorg. Foto: Gameplan Media
Peek-hulle het vroegoggend by die Taxi-stroomversnelling uit hul kano geval en ’n entjie geswem. Later by een van die drapunte het Mackenzie geval en ’n ernstige beenbesering opgedoen.
“Ons het met die boot gehardloop toe dit my skrams tref en ek val,” het Mackenzie gesê.
Sy het voortgehardloop en eers later ’n gat in haar been gesien.
Dié o.23-span van Varsity College/Euro Steel het die skof nietemin in 3 uur 11 minute 12 sekondes gewen.
Birkett en Nzimande (Euro Steel) het aanvanklik hul planne dig gehou en hul kans geduldig afgewag toe Lance Kime en Shaun Rubenstein die pas warm gemaak het.
Hulle het eers by die Guinea Fowl-drapunt die versneller platgetrap, ’n voorsprong opgebou en in 2:39:06 oor die eindstreep geroei.
“Ons plan vandag was om net by die voorste ouens te bly en te sien hoe sterk hulle in die hardloopskofte is,” het Birkett gesê.
“Khumbulani was vandag baie sterk en het heeltyd gesê ek moet vinniger. Dit het nog nooit met my gebeur nie, so dit wys die peil wat hy tans het.”
Hulle het ’n voorsprong van een minuut bo Thulani Mbanjwa en Sbonelo Khwela, wat tweede was in 2:40:07.
Dié voorsprong sal deurslaggewend wees in Vrydag se tweede skof, met sterk roeipare wat hulle sal uitdaag.
Vrydag is altyd ’n moeilike dag met die roei op die Inanda-dam. Dit is ’n dag waar jy goeie tyd kan opbou, maar jy kan ook baie tyd verloor.
Andrew Birkett
“Vrydag is altyd ’n moeilike dag met die roei op die Inanda-dam. Dit is ’n dag waar jy goeie tyd kan opbou, maar jy kan ook baie tyd verloor,” het Birkett gesê.
“Met baie meer roeiwerk wat op die derde dag voorlê, moet jy mooi na jou boot kyk. Jy kan nie foute bekostig nie.”
Khwela en Mbanjwa (Red Bull/Euro Steel) het ’n goeie eerste dag gehad en hulself in ’n puik posisie geplaas.

Brandon van der Walt en Shane Millward probeer die Taxi Rapid-stroomversnelling veilig oorsteek.Foto: Gameplan Media
Hulle is bekend vir hul hardloopvernuf, maar sal nou moet wys wat hulle met die roeispane in die hand kan doen.
Kime en Rubenstein blaas in hul nek in die derde plek, gevolg deur Banetse Nkhoesa en Msawenkosi Mtolo met Ant Stott en Carl Folscher vyfde algeheel.
Vrydag se tweede skof oor 46 km strek vanaf die Dusi-brug na die Msinsi-oord op die Inanda-dam.
Die wedvaart oor 120 km eindig Saterdag in Durban. –
Sportredaksie