Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Jeff Horn speel met die leeu se stert
Jeff Horn (links) se oogbanke sal Woensdag deur Tim Tszyu (regs) in Townsville getoets word. Foto: Getty Images

Jeff Horn speel Woensdag met die leeu se stert wanneer hy in Townsville in die Australiese staat Queensland teen Tim Tszyu boks.

Horn (32) was skaars drie jaar gelede omtrent ’n Australiese volksheld toe hy vir Manny Pacquiao verrassend as weltergewigkampioen van die Wêreldboksorganisasie onttroon het.

Hy het sy titel een keer suksesvol verdedig en toe ’n liederlike pak slae by die Amerikaner Terence Crawford gekry.

Hy het daarna met Anthony Mundine afgereken en in Augustus verlede jaar teen Michael Zerafa verloor.

In Desember het hy, ná ’n bloedige stryd, sy nederlaag teen Zerafa gewreek toe hy hom met punte verslaan het.

Jeff Horn se grootste oomblik in die bokskryt was toe hy Manny Pacquiao in 2017 in Brisbane verrassend verslaan het. Foto: Getty Images

Horn is steeds ’n gewilde vegter in Australië, maar daar is altyd die moontlikheid dat sy oogbanke weer aan die bloei kan gaan soos in soveel van sy vorige gevegte.

Die 25-jarige Tszyu is nog onoorwonne ná 15 gevegte in die beroepskryt.

Hy is dalk nog ’n bietjie onervare om teen iemand soos Horn te boks, maar hy kan beslis verras, want hy spog met 11 uitklophoue agter sy naam.

“Die enigste rede waarom ons teen mekaar boks, is omdat jou van Tszyu is,” het Horn sy teenstander hierdie week gekoggel.

Tszyu se pa, Kostya, word as een van die beste boksers beskou wat Australië nóg opgelewer het.

Tszyu junior steur hom nie aan Horn se praatjies nie en het aan ESPN gesê hy sal tevrede wees om “net die helfte” van wat sy pa bereik het, reg te kry.

Woensdag se geveg in die Country Bank-stadion in Townsville mag deur 16 000 toeskouers bygewoon word.

Meer oor:  Jeff Horn  |  Manny Pacquiao  |  Queensland  |  Australie  |  Verrassing  |  Boks  |  Titelgeveg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.