Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Impey oor Tour-sege: ‘Dis ongelooflik’

Daryl Impey se grootste oomblik as fietsryer het Sondag aangebreek toe hy ’n skofsege in die Tour de France behaal het.

Die wag was die moeite werd. Daryl Impey Sondag op die boonste trappie van die podium by die Tour de France. Foto: Reuters

Die 34-jarige Johannesburgse fietsryer het die negende skof oor 170,5 km in 4 uur, 3 minute en 12 sekondes voltooi en daarmee slegs die tweede Suid-Afrikaner geword wat ’n skof in die Tour kon wen.

Robert Hunter was die eerste, in 2007, wat dit in Montpellier kon regkry.

“Uit die perspektief van die Tour de France was ’n skofsege iets wat nog altyd vir my ontbreek het. In die verlede het ek myself ’n paar keer in die wegbreekgroep bevind, en vandag op Bastille-dag het ek uiteindelik die oorwinning behaal,” sê Impey.

“Dit is moeilik om op hierdie vlak te wen, maar ek het so half hierdie skof geteiken. Tog was ek gelukkig om op die regte tyd my aanslag te loods.

“Ons as ’n span het almal goed saamgewerk, maar ek is bly dat my bene teen die einde gehou het om Tiesj Benoot (die Belg wat tweede was) te wen.

“Ek was lanklaas so emosioneel soos nou. Ek dink die laaste Suid-Afrikaner om ’n skof in die Tour de France te wen was Robert Hunter in 2007 . . . dit is ’n ongelooflike oorwinning,” sê Impey.

Lekker is om ’n skofsege in die Tour de France te behaal. Daryl Impey bal sy vuis in ekstase toe hy Sondag eerste oor die wenstreep gery het. Foto: Reuters

Uiteindelik was die lang wag en frustrasie wat hy die afgelope paar jaar by tye ervaar het, Sondag die moeite werd.

En wag het hy gewag.

Impey (Mitchelton–Scott) het in 2012 sy buiging in die Tour gemaak. Hy het in 2013 die gesogte geeltrui vir twee skofte gedra, maar daardie skofoorwinning het hom bly ontduik. Tussendeur is hy in 2014 positief vir ’n verbode middel getoets. Maar hy het opgestaan en dit agter hom gesit.

Diegene wat fietsry volg sal nie verbaas wees dat die nederige Impey ’n skofsege behaal het nie. Hy beleef immers die laaste paar maande ongekende sukses.

Hy het vroeër vanjaar die Tour Down Under in Australië ’n tweede agtereenvolgende jaar gewen en ook sy Suid-Afrikaanse padfietstitel suksesvol verdedig. Toe hy ná sy oorwinning in Pretoria, waar basies van nêrens afgekom het om te wen, gevra is hoe hy dit reggekry het, was sy antwoord dat oor die jare gesien het wat vir hom werk en wat nie.

En in sy sewende jaar in die Tour het hy ook lankal uitgewerk wat benodig word om ’n skofsege te behaal.

Die geeltrui is steeds om die skouers van die Fransman Julian Alaphilippe (Deceuninck–Quick-Step). Hy is 23 sekondes voor Italië se Giulio Ciccone (Trek–Segafredo). Die verdedigende kampioen, Geraint Thomas (Ineos) van Wallis, is in die vyfde plek.

Impey bevind hom nou algeheel in die 42ste plek.

Maandag se 10de skof is oor 217,5 km tussen Saint-Flour en Albi, voordat die ryers Dinsdag ’n rusdag het.

Meer oor:  Daryl Impey  |  Tour De France  |  Fietsry
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.