Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
‘Impey SA se beste fietsryer nóg’

Die fietsryer Daryl Impey se skofsege Sondag in die Tour de France is so ’n groot prestasie soos om die Wimbledon-tennistoernooi te wen.

Hierdie een is myne! Daryl Impey ry Sondag eerste oor die wenstreep. Foto: Reuters

So sê die voormalige Suid-Afrikaanse baanfietsryer JP van Zyl oor sy 34-jarige landgenoot se oorwinning in Sondag se negende skof. Daarmee het Impey slegs die tweede Suid-Afrikaner ná Robert Hunter in 2007 geword om ’n skofsege in die wêreld se mees prestigeryke fietstoer te behaal.

“Ek dink dit is iets wat net een keer in ’n dekade gebeur, omdat dit só moeilik is. In Suid-Afrika is daar nie strukture om suksesvolle beroepsryers te kweek nie,” sê Van Zyl, wat allerweë as die beste baanfietsryer beskou word wat die land tot nog toe opgelewer het.

Hy het in 1997 ’n silwer- en in 2003 ’n bronsmedalje by die Wêreldkampioenskap verower.

“As Daryl in Brittanje gebore was, het hy nou om die geeltrui meegeding, met ’n skatryk span wat agter hom was. Dit wys net, hy het dit sonder geleenthede gedoen, en moet daarvoor geëer word,” sê Van Zyl.

Daryl Impey ná sy skofsege tydens Sondag se negende skof van die Tour de France. Foto: Reuters

Hunter sê Impey, wat vir die Australiese Mitchelton-Scott-span ry, is suksesvol omdat hy vroeg reeds besef het dat om ’n suksesvolle beroepsryer te wees, iets meer as die gewone gaan verg.

“Ons kom ’n baie lang pad saam, en hy het ’n tyd ook by my gebly. Daryl is pligsgetrou, die meeste mense besef nie wat dit verg om net ’n beroepsryer te wees nie, wat nog te praat een van die bestes. Onthou die topspanne (waarvan die meeste in Europa is) het nie Suid-Afrikaners, Aussies of Amerikaners nodig nie, daar is goeie ryers in Europa. Die enigste manier om by hulle plek te kry, is deur te wys dat jy die beste is – iets wat Daryl besef.

“Vir die afgelope tien jaar is hy een van die mees gerespekteerde ryers wat daar is. Die oorwinning is reusagtig vir Suid-Afrikaanse fietsry en dit is ook belangrik dat daar nou nog iemand is wat met ’n skofsege spog. Hopelik is daar in die toekoms nog Suid-Afrikaners wat dit kan regkry,” sê Hunter.

Robert Hunter in aksie tydens die Tour de France in 2008. Foto: Getty Images

By die voormalige fietsryer Chris Willemse, wat in 1975 die Suid-Afrikaanse padtitel gewen het, is daar geen twyfel dat Impey die beste fietsryer is wat die land tot dusver opgelewer het.

“Toe hy destyds die geeltrui (in die Tour in 2013 vir twee skofte) gedra het, was dit reeds duidelik dat hy iemand besonders is. Die manier hoe hy Sondag gewen het (die naelrit eindstreep toe), was uitstekend.

Willemse, wat deesdae ’n fietsrywinkel in Bellville besit, sê Impey se persoonlikheid is een van sy groot bates.

“Hy is plat op die aarde, slim en het geen vyande nie. Boonop is hy gedissiplineerd. Ek onthou hy was verlede jaar ’n gas by ’n geleentheid in Johannesburg en hy het nee dankie vir ’n drankie gesê omdat hy die volgende dag moes oefen,” sê Willemse.

Willemse se seun, Chris jr., vertel dat hy destyds in 2003 saam met Impey vir die Microsoft-span in Johannesburg gery het.

“Hy was altyd die aangename ou. Dat hy talent gehad het, was nooit te betwyfel nie, maar dat hy dit so ver gebring het, sou niemand kon raai nie.”

Meer oor:  Daryl Impey  |  Tour De France  |  Fietsry
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.