
Richie Porte het Donderdag se derde skof gewen. Foto: Getty Images
Die Australiër Richie Porte het Donderdag met ’n skitterende eindpoging vorendag gekom om die derde skof van die Tour Down Under te wen.
Daryl Impey van Suid-Afrika moes met die sesde plek tevrede wees.
Porte (Trek-Segafredo) het die skof oor 131 km tussen Unley en Paracombe in Australië in 3 uur, 14 minute en 9 sekondes voltooi, met die Suid-Afrikaner 5 sekondes agter hom.
Impey (Mitchelton-Scott) se spanmaat Simon Yates, 2018 se Vuelta a España-kampioen, het teen die einde van die skof effens uit die niet verskyn om derde klaar te maak.
Die skof het klimmers bevoordeel en teen ’n woeste klim geëindig.
Porte, die kampioen in 2017 wat die afgelope twee jaar die knie voor Impey moes buig, is nou die nuwe algehele voorloper.
Die Suid-Afrikaner het van die derde tot die tweede plek algeheel opgeskuif, ses sekondes agter Porte.
Die skof word as ’n belangrike skof beskou vir die ryer wat hoop om Sondag as die kampioen gekroon te word.
Impey, die verdedigende kampioen, is beslis nog in die prentjie, maar soos hy verlede week opgemerk het gaan hy ’n skofsege moet behaal as hy Sondag weer as kampioen gekroon wil word.
Yates is ook ’n sterk aanspraakmaker om Sondag met die louere weg te stap. Hy bevind hom algeheel in die vierde plek, nadat hy die vorige dag nog 77ste algeheel was.
Vrydag se vierde skof oor 152,8 km word tussen Norwood en Murray Bridge beslis.