Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Iné-Mari se visier weer op Proteas

Net nóg proewe, sê Iné-Mari Venter, die Protea-hulpdoel, filosofies.

Sy is met een been weer terug in ’n Protea-groep, maar moet die SA netbalafrigters nou weer van vooraf van haar deugde oortuig.

Die Protea-doelskieter Iné-Mari Venter het vanjaar waardevolle ondervinding by die Melbourne Vixens opgedoen al was sy beseer. Foto: Getty Images

Die 24-jarige Pretorianer was saam met haar spanmaats op pad na die Wêreldbeker-toernooi in Engeland, maar haar seisoen is in Julie kortgeknip toe sy tydens ’n oefening in Cardiff, Wallis, ’n kuitspier geskeur het.

Nou is sy terug in ’n oefengroep uit wie 12 spelers gekies sal word wat Engeland einde vandeesmaand in Bellville pak.

Die groep wat in Oktober die Afrikabeker-toernooi gewen het, word aangevul deur Venter en Phumza Maweni, die hoofdoelverdediger.

“Die jaar was by tye baie taai, maar dit is deel van sport,” sê Venter.

Al was sy beseer, het haar Australiese span, die Melbourne Vixens, haar nie eenkant toe geskuif nie.

“Ek is direk van Cardiff na Melbourne en het my rehabilitasie daar gedoen. Ek was nie deel van die twaalftal vir die Superliga nie, maar het nogtans baie geleer en ervaring opgedoen deur saam met die span te oefen en hul wedstryde dop te hou.

“Ek is eers teen die einde van die seisoen medies geskik verklaar om weer te speel.

“Die intensiteit waarteen hulle oefen, is ongelooflik.”

Venter sê sy is slaggereed vir aksie, maar kort wedstrydfiksheid.

Jenny van Dyk, die Tuks-afrigter, help haar met baan-, voet- en balwerk.

Daar is ná Maryka Holtzhausen se uittrede ’n groot stryd om die posisie van hulpdoel.

Venter, wat 11 toetse gespeel het, sê elke doelskieter het haar eie sterkpunte. “Dit hang af wat coach Dorette soek vir die reeks teen Engeland.”

Venter sê sy wil beslis haar plek in die span terugkry vir dié reeks van drie toetse op 29 en 30 November en 1 Desember, asook Januarie se Vierhoekige reeks teen Engeland, Nieu-Seeland en Jamaika.

Venter gaan in 2020 vir die Queensland Firebirds in Australië speel.

Intussen het Engeland Donderdag sy groep van 14 bekend gemaak.

Dit is ’n onervare groep wat na Suid-Afrika reis. Serena Guthrie, die gereelde kaptein, Jo Harten, Helen Housby, Chelsea Pitman, Eboni Usoro-Brown en Geva Mentor kry almal ’n blaaskans.

Engeland: George Fisher, Natalie Haythornthwaite, Stacey Francis, Eleanor Cardwell, Jade Clarke (k), Kate Shimmin, Kadeen Corbin, Laura Malcolm, Fran Williams, Sophie Drakeford-Lewis, Natalie Panagarry, Razia Quashie, Gabriella Marshall (oefenmaat), Summer Artman (oefenmaat).

Meer oor:  Netbal  |  Iné-Mari Venter  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.