Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Ineos kry ‘troosprys’ met Tour-skofsege
Kameraadskap. Die Ineos Grenadiers se Richard Carapaz (links) en Michal Kwiatkowski ry Donderdag oor die wentsreep. Foto: Reuters

Die beleerde Ineos Grenadiers, wat sedert die begin van die Tour de France onder kritiek deurloop, kon Donderdag ’n sug van verligting slaak toe een van hul ryers ’n skofsege behaal het.

Michal Kwiatkowski (Pole) het die 18de skof oor 175 km tussen Méribel en La Roche-sur-Foron in 4 uur, 47 minute en 33 sekondes voltooi. Sy spanmaat Richard Carapaz van Ecuador was tweede, met die Belg Wout van Aert (Jumbo-Visma) derde (+1 minuut en 51 sekondes).

Kwiatkowski en Carapaz was in ’n groot groep van ryers wat reg aan die begin van die skof weggebreek het. Oor die volgende meer as vier uur, het die res uitgesak, maar die twee het voortgestoom.

Daar is oor die laaste paar kilometer onder kommentators gewonder hoe die twee gaan bepaal wie die skof wen. Maar hulle het glimlaggend rustig saam oor die eindstreep gery.

Daar is oor die laaste paar kilometer onder kommentators gewonder hoe die twee gaan bepaal wie die skof wen. Maar hulle het glimlaggend rustig saam oor die eindstreep gery.

Vir die 30-jarige Kwiatkowski, ’n voormalige wêreldkampioen, sal die oorwinning soet wees. Hy en Carapaz is by die Tour as werkesels vir 2019 se kampioen, Egan Bernal. Dié het hom egter Woensdag onttrek – iets wat aan sy spanmaats die geleentheid gegee het om in die kollig te wees. En die twee het hulle nie twee keer laat nooi nie.

Dit was weer soos Woensdag ’n bergskof, wat onder meer bestaan het uit twee kategorie 1-klimme, een kategorie 2- en ’n kategorie 3-klim. Die groot uitdaging was egter die hors catégorie-klim op die skof. Dié klim is 6 km lank en het ’n gradiënt van 11,2%.

Vir Tadej Pogacar (UAE), wat voor die aanvang van die tweede skof algeheel in die tweede plek was, 57 sekondes ná Primož Roglic (Jumbo-Visma), was dit een van die laaste geleenthede om sy agterstand te laat krimp.

Goed dopgehou. Primož Roglic (voor) ry voor Tadej Pogacar oor die eindstreep. Foto: Reuters

Roglic en sy spanmaats het dit besef, en die grootste gedeelte van die skof sake beheer. Om die waarheid te sê, die meeste van die ryers wat onder die voorste tien op die algehele punteleer is, het mekaar met arendsoë dopgehou.

Sowat 35 km van die einde, teen die hors catégorie-klim, het Mikel Landa (Bahrain-McLaren) van die peloton af weggebreek. Hy was voor die aanvang van die skof algeheel in die sewende plek, 3 minute en 27 sekondes ná die draer van die geeltrui. Jumbo-Visma het egter nie paniekerig voorgekom nie, met Landa wat kort daarna weer ingekatrol is. Landa is wel ná dese algeheel in die vyfde plek.

Op die ou einde het dit nooit regtig gelyk of Pogacar, ’n Sloween, ’n aanval kan loods om sy landgenoot onder druk te sit nie. Roglic het vierde oor die wenstreep gery, gevolg deur Pogacar.

Hoewel daar die afgelope tyd baie oor Jumbo-Visma se vermoë om die wedren te beheer en Roglic op te pas gepraat is, verdien die span weer eens ’n pluimpie.

Roglic se voorsprong is steeds 57 sekondes bo sy landgenoot, en dit lyk al hoe meer of hy Sondag as kampioen gekroon gaan word.

Suid-Afrika se Daryl I mpey (Mitchelton-Scott) is algeheel in die 97ste plek, met Ryan Gibbons (NTT) 123ste.

Die plaaslike NTT is steeds 20ste in die spankompetisie.

• Die 19de skof word Vrydag oor 166,5 km tussen Bourg-en-Bresse en Champagnole beslis.

Op Twitter: 

Meer oor:  Richard Carapaz  |  Primož Roglic  |  Pole  |  Frankryk  |  Ineos  |  Tour De France  |  Geeltrui  |  Fietsry
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.