Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
IOK slaan vure dood ná Frankie se uitlatings

Thomas Bach, president van die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK), het ontken dat hy ’n korrupsie-ondersoek probeer verhinder het deur die voormalige Namibiese atleet Frankie Fredericks opdrag te gee om nie na Frankryk te reis nie.

Frankie Fredericks, voormalige Namibiese atleet en Olimpiese silwermedaljewenner. Foto: Getty Images

Die 53-jarige Fredericks, wat silwermedaljes in die 100 m en 200 m in die Olimpiese Spele in 1992 en in 1996 gewen het, het in ’n verklaring gesê dat die IOK hom aangeraai het om besoeke aan Frankryk te vermy nadat hy in 2017 gekoppel is aan beweerde omkopery.

Fredericks is daarvan beskuldig dat hy in 2009 omkoopgeld van $299 300 van Papa Massata Diack, die seun van die hoof van die destydse Internasionale Vereniging vir Atletiekfederasies (IAAF), nou Wêreldatletiek, Lamine Diack, aanvaar het toe Rio de Janeiro as gasheer gekies is vir die Olimpiese en Paralimpiese skouspelle in 2016.

Fredericks het in ’n verklaring wat deur die Duitse publikasie Süddeutsche Zeitung bekom is, gesê dat hy in 2017 deur Bach en Christophe de Kepper, direkteur-generaal vir die IOK, gekontak is en vertel is dat hy ’n oproep van Pâquerette Girard-Zappelli moet verwag.

Fredericks het later vir Girard-Zappelli, hoof van etiek vir die IOK, gebel nadat sy vir hom ’n boodskap gestuur het waarin sy, volgens Fredericks, gesê het dat hy “versigtig moet wees om nie na Frankryk te reis nie”.

Fredericks het gesê dat Girard-Zappelli dit duidelik gemaak het dat sy dié boodskap namens Bach oordra.

“Sy (Girard-Zappelli) het vir my gesê dat die president haar gebel het om vir haar in te lig dat ek beplan het om na Europa te vlieg en dat ek versigtig moet wees om nie na Frankryk te gaan nie,” het Fredericks geskryf, wat destyds van plan was om van Windhoek na Berlyn te reis vir sake.

Hy het in Maart 2017 homself onttrek as ’n lid van die IAAF se taakspan, wat die Russe wou help om weer aan internasionale byeenkomste te kan deelneem ná ’n opkikker-skandaal, nadat die Franse koerant Le Monde beweer het dat hy omkoopgeld aanvaar het.

Hy is in November van dieselfde jaar geskors as ’n lid van die IOK nadat hy van geldwassery en korrupsie aangekla is.

Hy is ook geforseer om te bedank uit sy pos as voorsitter van die IOK se evalueringskommissie, wat gekyk het na aansoeke van lande wat die 2024- Olimpiese Spele en Paralimpiese Spele wou aanbied. Dit was eindelik ’n stryd tussen Parys en Los Angeles.

Thomas Bach, president van die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK). Foto: Getty Images

Die IOK sê dis omdat Fredericks nie meer dié pos beklee het nie dat hy gevra is om nie Frankryk toe te reis nie.

“Daar was geen bevel van die IOK-president nie, maar Girard-Zappelli het vir meneer Fredericks aanbeveel om, terwyl die bewerings ondersoek word, nie voort te gaan met sy voorbereiding vir die IOK se evalueringskommissie se besoek aan Parys nie,” het die IOK luidens ’n verklaring gesê.

Fredericks het ontken dat die geld wat hy ontvang het ’n beloning was daarvoor dat hy ten gunste van Rio de Janeiro as gasheer vir die Spele gestem het.

Hy reken dit was befondsing vir verskeie projekte wat hy vir die IAAF gedoen het, selfs al was die betaling meer as dubbeld die gefaktureerde bedrag wat Fredericks aan die IAAF gestuur het.

Dié geld is op 2 Oktober 2009, dieselfde dag waarop die Spele aan Rio de Janeiro toegeken is, aan hom oorbetaal.

Hy het sedertdien aan Franse owerhede gesê dat hy gedink het die tyding van die betaling was blote toeval en dat die ekstra geld ’n “geskenk” was omdat dit ook sy verjaardag was.

Wêreldatletiek se integriteitseenheid (AIU) se ondersoek duur steeds voort.

• Lamine (87) is in September in Frankryk vier jaar tronkstraf opgelê waarvan twee jaar opgeskort is.

Hy is aan korrupsie skuldig bevind met betrekking tot die Russiese opkikkerskandaal. Hy is ook met €500 000 beboet.

Papa Massata is ook skuldig bevind aan korrupsie, maar is in absentia gevonnis omdat hy geweier het om Senegal te verlaat en in Frankryk verhoor te word.

Meer oor:  Frankryk  |  Iok  |  Thomas Bach
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.