Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Vrouebokser vrees vir haar tuiskoms

Die eerste Iranse vrou om aan ’n beroepsboksgeveg deel te neem het haar planne om terug te keer huis toe gekanselleer nadat sy gewaarsku is dat ’n lasbrief vir haar inhegtenisneming in Tehran uitgereik is.

Sadaf Khadem (24) het Saterdag in Royan, Frankryk, met die Franse bokser Anne Chauvin afgereken.

Khadem het aan L’Equipe gesê sy was in ’n taxi op pad na die Charles de Gaulle-lughawe toe haar afrigter, Mahyar Monshipour, inligting ontvang het dat ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik is.

Sadaf Khadem in aksie Saterdag in haar eerste beroepsgeveg teen Anne Chauvin van Frankryk. Foto: Reuters

Monshipour, ’n voormalige bokskampioen wat in Iran gebore is, maar intussen Franse burgerskap verkry het, het die geveg georganiseer nadat Iran die deur oopgemaak het vir vroue om te boks.

’n Verteenwoordiger van Khadem het aan Reuters gesê owerhede het lasbriewe vir haar en Monshipour se inhegtenisneming uitgereik.

Hossein Soori, grootbaas van Iran se boksbeheerliggaam, ontken Khadem sal in hegtenis geneem word en voer aan die inligting is afkomstig van media met bande in Saoedi-Arabië.

“Mev. Khadem is nie ’n lid van (Iran) se georganiseerde atlete vir boks nie en vanuit die beheerliggaam se oogpunt is al haar aktiwiteite persoonlik,” sê hy.

Iran plaas streng beperkings op vroue se deelname aan sport, hoewel owerhede al hoe meer begin toegewings maak ná jare se veldtogte deur drukgroepe.

“Die beheerliggaam laat vroue deesdae toe om te registreer om te boks mits hulle deur ’n vrou afgerig word en die Islamitiese hijab dra terwyl hulle meeding.”

Khadem het aan L’Equipe gesê haar klerekeuse vir die geveg mag dalk omstredenheid in haar tuisland veroorsaak het.

“Ek het binne ’n wettige raamwerk in Frankryk aan die geveg deelgeneem,” sê Khadem.

“Maar omdat ek ’n kortbroek en T-hemp gedra het . . . ek het die reëls van my land verontagsaam. Ek het nie ’n hijab gedra nie, ek is deur ’n man afgerig . . . sommige mense beskou dit in ’n ernstige lig.”

Daar het tot op datum nog geen boksgevegte tussen vroue in Iran plaasgevind nie.

Vroue in Iran kan beboet word en selfs tronkstraf ontvang indien hulle in die publiek sonder ’n kopdoek verskyn.

Iran se vroue-atlete word verplig om hul hare, arms, bene en nek tydens kompetisies te bedek.

Monshipour was van plan om vandeesweek saam met Khadem na Iran te reis.

Frankryk se ministerie van buitelandse sake kon nie dadelik oor die kwessie kommentaar lewer nie, terwyl Monshipour en Khadem steeds in die donker is oor wat op hulle wag met hul tuiskoms.

Khadem het egter ’n foto van haar hande op Instagram geplaas met ’n kriptiese boodskap in Arabies aan haar meer as 83 000 volgelinge: “Ek het geleer om elke dag vir ’n beter lewe te baklei.”

– Reuters

Meer oor:  Boks  |  Iran  |  Vrouesport
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.