Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Jake LaMotta: Die bul nou vir ewig getem

Raging Bull. Danksy dié briljante rolprent wat in 1980 uitgereik is, sal Jake LaMotta nie sommer vergeet word nie.

Jake LaMotta (regs) in aksie in 1950 teen Dick Wagner. Foto: The Illustrated History of Boxing

LaMotta het hierdie week in die ouderdom van 95 weens longontsteking gesterf.

Hy was een van vele middelgewigbokskampioene wat die wêreld al gesien het.

’n Taai, kwaai vegter, maar nie regtig een wat deur bokskenners as een van die bestes nóg beskou sal word nie.

Tog sal LaMotta deur baie mense onthou word.

Die rede hiervoor is die biografie, Raging Bull, wat hy in 1970 met die hulp van Joseph Carter en Peter Savage geskryf het.

Sjoe, nog voor hoofstuk een waarsku die skrywers al klaar dat jy nou gaan lees van ’n seksuele atleet, ’n tiener-moordenaar, ’n brutale man wat sy vroue aangerand het en ’n bokser wat die middelgewigkampioen van die wêreld geword het in ’n tyd toe die mafia nog sy kloue in die sport gehad het.

Jake vertel sy verhaal soos hy geboks het. Eerlik en rou.

Tien jaar later het die regisseur Martin Scorsese ’n briljante fliek van die boek gemaak en skielik was LaMotta se naam weer op almal se lippe.

Of eintlik nie LaMotta nie, maar Robert de Niro. Dié briljante akteur het LaMotta gespeel, selfs die bokstonele.

Moet tog net nie daardie toneel in die fliek waar De Niro teen die toue hang en Sugar Ray Robinson uitnooi om hom nóg harder te probeer slaan, as die heilige waarheid sluk nie.

Ja, LaMotta het verstommend op sy voete gebly in daardie dramatiese geveg, maar Sugar Ray het hom dalk ’n guns bewys deur hom nie uit die kryt te slaan nie.

LaMotta hang aan die toue in sy sesde geveg teen Sugar Ray Robinson. LaMotta was ’n vegter wat ongelooflike straf kon verduur. Foto: A Pictorial History of Boxing

De Niro het hierdie week ’n kort verklaring uitgereik waarin hy sê: “Rus in vrede, champ.”

Die boek en die fliek het LaMotta vratte en al uitgebeeld.

Ook hoe hy sy vroue mishandel het.

Hy was eindelik sewe keer getroud en sy laaste vrou, Denise, het aan The Independent vertel dat hy later rustiger geword het.

“Ek wil net hê mense moet weet hy was ’n wonderlike, sensitiewe man met ’n wonderlike sin vir humor met oë wat gedans het,” het sy gesê.

Wys jou net, mense kan verander.

LaMotta het die wêreldtitel in 1949 gewen toe hy die Fransman Marcel Cerdan geklop het.

Hy het die titel twee keer verdedig en toe aan Robinson afgestaan.

LaMotta en Robinson sou eindelik ses keer teen mekaar veg met LaMotta wat net een gewen het.

Bronne: A Pictorial History of Boxing; Raging Bull deur Jake LaMotta, Joseph Carter en Peter Savage.

Meer oor:  Boks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.