Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
'Jimmy, ek het jou eintlik gedrop'

As koerantman moes Pieter Kruger vir Jimmy Abbott om verskoning vra omdat hy nooit ’n storie oor hom geskryf het nie. Vandag stel hy die saak reg.

Jimmy Abbott
Jimmy jubel ná hy Kallie Knoetze in 1980 geklop het. Stan Christodoulou was die skeidsregter. Foto: Beeld

"Weet julle iets van boks af?”

Dit het daardie Vrydagaand ewe skielik stil geraak in Vegkop (die joernaliste se kuierkroeg in die Nieu-Doornfontein-hotel), want wanneer Mike Schutte só ’n vraag gevra het, moes jy maar baie mooi oor jou antwoord nadink.

Mike was sekere Vrydagaande die gaskunstenaar met sy kitaar en het pas aan Neil Diamond se “Cracklin’ Rosie” nuwe betekenis gegee.

Hy sou sekerlik nie ’n Grammy gewen het met sy vertolking van die trefferlied nie, maar niemand het die moed gehad om hom af te kraak nie, want jy wou nog ’n hele paar scoops skryf.

Aan die einde van Kris Kristofferson se “Sunday Morning Coming Down” het hy weer oor die krakerige mikrofoon gevra: “Wie van julle skryf oor boks?”

“Ekke, maar net so ’n bietjie,” het ek braaf gesê.

“Ek wil jou vertel van ’n laaitie van Newlands wat ek onder my vlerk geneem het en ons skerm nou teen mekaar. Hy kan ’n punch vat, hy kan bob and weave en wanneer hy binnekort teen Kallie boks, glo ek hy gaan wen en champ word,” het Mike gesê.

Mike Schutte
Mike het mense met sy musiek vermaak. Foto: Beeld

Jimmy Abbott was toe al lank in die bokskryt en het ’n hele paar gevegte gehad waarvan hy die meeste gewen het.

Maar Groot Jim het in die skaduwee van Gerrie Coetzee, Kallie Knoetze en Mike Schutte beweeg, want hulle was bemarkbaar en dit het voorgekom asof die vegknopers en promotors hom nooit werklik in die kollig wou plaas nie.

Sy gesin, die swaarkry-dae saam met die sogenaamde Vuilvoete van Newlands, was maar altyd die baddies in die verhaal.

Aan die boksfront het hy byvoorbeeld vyf keer teen die veel ligter Robbie Williams, die skare se gunsteling, geboks.

Jimmy het die eerste twee gevegte gewen, die derde was gelykop en die laaste twee het hy met punte verloor.

Was almal toe tevrede?

Die Dinsdagmiddag het ek tog gaan kyk wat Mike bedoel het, want beloftes maak skuld, veral as jy weer vir Mike in Vegkop sou raakloop.

Ek het my bedenkinge oor Jimmy gehad, want hy was kwaai oorgewig en het knokkelknieë gehad. Nee wat, hy gaan kanonvoer wees en ek het niks oor hom geskryf nie.

Jimmy Abbott
“Kyk hoeveel gewig het ek al verloor!” Foto: Doug Lee

Kallie Knoetze is in die moeilikheid in die eerste ronde. Foto: Beeld

Ek was verkeerd.

Op 8 Maart 1980 in die Ellispark-tennisstadion kry Jimmy, oftewel Jumbo soos hy bekend gestaan het, sy groot kans teen Kallie, wat in die skemer van sy loopbaan begin beweeg het.

Ek het nooit gedink dat Jimmy vir Kallie om die vakante Transvaal-swaargewigtitel sou kon klop nie, wat nog van in die eerste ronde.

Weer was ek verkeerd.

Jimmy het die geveg met ’n tegniese uitklophou gewen nadat Kallie buite die kryt beland het.

“Hy het altyd gesê dat hy my uitgeslaan het, maar dit was nie so nie. Hy het my oor die toue gestamp. Al wie my kon uitslaan . . . en baie ook, is my vrou (Elise),” het die nimlike Kallie vandeesweek gesê.

“Die geld was reg, maar kom ons vergeet daarvan. Jimmy was ’n baie goeie bokser en hy het sy lewe op die regte pad gekry. Kom ons onthou hom daarvoor, oor hoe ver hy ’n gholfbal daar op Monumentpark se gholfbaan kon slaan, hoe hy die draaiboek as rofstoeier verkeerd gelees het, hoe hy in die aande vir my gebid het,” het Knoetze gesê.

Die Abbott-gesin het later na ’n hoewe langs die Princess-stasie aan die Wes-Rand getrek en ek is aangesê om ’n foto daar van hulle te neem.

Jimmy was egter nie daar nie en ons het gewag en gewag. Dit was in die dae voor selfone, ons kon hom nie opspoor nie.

Dis toe dat alle hel losgebars het nadat pa James een van die gesinslede met sy gordel rondgejaag het.

“Vandag donner ek jou dood,” het hy geskree en gegil.

“Kom,” het die fotograaf Alan Murdoch geskree en laat waai, met die hoenders wat verskrik saam met ons geskarrel het.

Dié foto is nooit geneem nie.

Jimmy Abbott
Jimmy as ondersteuner van Transvaal. Foto: Duif du Toit/Gallo Images

’n Paar jaar gelede het ek met Jimmy gaan gesels, daar waar hy byna weekliks op Ellispark met sy rooibont trui in die voorste ry gesit en rugby kyk het.

Ek wou vrede maak, teenoor hom bieg, hom vra of hy geweet het van nog ’n bokser met die naam Jimmy Abbott, ’n Amerikaner wat glo donkiejare terug meer as 40 van sy 82 weltergewiggevegte gewen het.

“Jimmy, ek het jou eintlik gedrop en nooit oor jou geskryf nie,” is al wat ek wou sê.

“Ag, oom, moenie worry nie, jy sal vergifnis van die Here af kry,” het hy gesê en nog ’n Bybelversie aangehaal.

Die kringloop is voltooi, Jimmy het vrede in sy hart gehad, hy was gelukkig getroud, hy kon as pastoor siele red.

Hy het ’n uiters lang en moeilike paadjie tot aan die einde ge­stap, maar hy het sy grootste geveg gewen.

Meer oor:  Kallie Knoetze  |  Jimmy Abbott  |  Boks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.