Die Olimpiese Spele is net ses maande weg, maar die Covid-19-pandemie het Japan genoop om sy grense te sluit ná ’n skerp styging in infeksiesyfers.

Japan het sy grense gesluit vir buitelanders te midde van drastiese stygings in infeksiesyfers van Covid-19. Foto: Getty Images
Die sluiting van die grense behels ook die opskorting van die vergunning vir buitelandse atlete wat in Japan kom oefen met die oog op die Tokio-skouspel, wat tans geskeduleer is om op 23 Julie te begin.
Kaydo News berig dat die opskorting in dié stadium tot 7 Februarie duur, die geskeduleerde einde van die koronavirus-noodtoestand in die Japanse hoofstad en ander groot stede.
Japan stoei met ’n rekordgetal stygings in infeksies, met die regering wat genoop was om strenger beheer by grensposte uit te oefen en sy noodtoestand uit te brei om meer as helfte van die land se inwoners in te sluit.
Die opskorting van die vergunning vir atlete volg op die vrystelling aan sakereisigers wat ook vir eers gestaak is.
Die tydelike verbod sal van toepassing wees op alle buitelandse atlete en afrigters wat nie in Japan woon nie, met Japanse sportligas wat almal ook uitgestel is.
Japanse atlete sal wel toegelaat word om die land binne te kom, maar moet dan 14 dae in selfisolasie gaan en mag in dié tydperk nie oefen of deelneem nie. – Reuters