
Summer Pudding, met Warren Kennedy in die saal, het die Summer Cup-wedren in Johannesburg gewen. Foto: Facebook
Die vierjarige merrievul Summer Pudding het Saterdag by Turffontein in Johannesburg kenners gaande gehad met haar oorwinning in die Summer Cup-wedren oor 2 000 m.
“Hierdie merrievul het ’n spesiale plekkie in my hart. Sy het ’n wye loting gehad om te oorkom en sy het baie gewig gehad om te dra, maar sy het steeds gemaklik gewen. Sy is sonder twyfel een van die beste perde wat ek al in my lewe gery het,” het die jokkie Warren Kennedy op Tellytrack gesê.
Kennedy verdien ook ’n klop op die rug vir die goeie taktiese wedren wat hy vir die afrigter Paul Peter gery het.
Hy het kalm gebly en gesorg dat hy Summer Pudding vroeg binne trefafstand kry en toe die laaste 200 meter aanbreek, het hy die perdjie vrye teuels gegee.
Die vyfjarige merrie Running Brave, met Muzi Yeni in die saal, was tweede met die vierjarige reun Tree Trumbo (Calvin Habib) derde.