Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Jong Norris bederf Lewis se dag

Die Oostenrykse Grand Prix het Sondag op die Red Bull Ring in Spielberg al die nodige bestanddele bevat om die aandag ná maande van die Covid-19-pandemie af weg te lei.

Die 20-jarige Lando Norris skud sjampanje van sy gesigmasker nadat hy ’n podiumplek in die Oostenrykse Grand Prix met ’n witwarm laaste rondte verseker het, ten koste van Lewis Hamilton. Foto: Getty Images

Dit was ’n dag van hoogdrama, ’n rits ongelukke, geen toeskouers nie en ’n protes teen rassisme.

Maar almal was dit eens: Formule Een is terug met ’n reuseknal.

Valtteri Bottas in sy swart Mercedes het sy agtste F1-oorwinning behaal en ook die voorloper in vanjaar se reeks geword.

Sy spanmaat, Lewis Hamilton, was aanvanklik tweede, gevolg deur Charles Leclerc (Ferrari), Lando Norris (McLaren), Carlos Sainz jr. (McLaren) en Sergio Perez (Racing Point).

Maar Leclerc is tweede geplaas, Norris derde en Hamilton vierde nadat ’n botsing tussen die sesmalige wêreldkampioen en Alexander Albon (Red Bull), tesame met ’n witwarm laaste rondte deur Norris, die kat in die hoenderhok gegooi het.

Sowel Hamilton as Albon is met vyf sekondes gestraf vir hul botsing. Dit het die 20-jarige Norris in die prentjie geplaas vir die eerste podiumplek van sy jong loopbaan, maar met die aanvang van die laaste rondte was hy steeds meer as vyf sekondes agter Hamilton.

Soos dit ’n vreeslose jong jaer betaam, het die jonger Brit egter voet in die hoek gesit. Danksy die vinnigste rondte deur enige jaer op die dag (1.07.475) het hy 4,8 sekondes ná Hamilton oor die eindstreep gejaag – goed genoeg om dit ’n droomdag vir hom te maak.

Norris (20 jaar en 235 dae) is nou die derde jongste jaer ná Max Verstappen (18 jaar en 228 dae) en Lance Stroll (18 jaar en 240) op ’n F1-podium. Hy is ook die jongste Brit ooit – ’n eer wat sedert 2007 aan Hamilton behoort het.

Dit was ’n ren wat Hamilton nie lank sal wil onthou nie.

Hy is kort voor die wegspring met drie wegspringposisies gestraf vir ’n voorval in Saterdag se laaste oefensessie. Sy motor het meganiese probleme opgelewer en hy en sy span het nie langs dieselfde vuur daaroor gesit nie.

Boonop is hy toe met vyf sekondes gestraf vir die botsing met Albon en het dit hom sy podiumplek gekos.

“Dit was nie die beste van naweke nie,” het hy agterna teenoor BBC te kenne gegee. (Die situasie wat tot ’n swakker wegspringposisie gelei het) was geheel en al my fout en om toe die straf (vyf sekondes weens die botsing met Albon) te kry . . . wel, dit is wat dit is.

“Ek sal elke hou vat as ek dit verdien het en dan aanbeweeg.”

Altesame nege van die jaers, insluitend Max Verstappen, Sebastian Vettel en Daniel Ricciardo, kon weens meganiese probleme of ongelukke nie die ren voltooi nie.

Dit was veral die laaste deel van die ren wat gereeld onderbreek is deur die ontplooiing van die veiligheidsmotor.

Met soveel jaers in die kuipe het net die groentjie, Nicholas Latifi, wat 11de geëindig het, nie punte verdien het nie.

* Kort voordat die ren begin het, het al die jaers uit samehorigheid T-hemde gedra waarop protes teen rassisme aangeteken is.

Maar net voordat die Oostenrykse volkslied gespeel is, het ses van hulle, insluitende Verstappen en Leclerc, nie saam met 14 ander jaers uit protes op een knie gesak nie. – Reuters, BBCSport

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.