Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Jong skiërs maak SA trots, sê oud-Olimpiër

Suid-Afrika se twee deelnemers aan die Jeug-Winterspele had allermins die vaardighede en ervaring vir deelname op die hoogste vlak, maar hulle kan hul koppe omhoog hou.

Die 17-jarige Oos-Kapenaars Hanlé van der Merwe en Thabo Rateleki het in Les Diablerets, Switserland, hard met die werklikhede van mededingende Alpynse ski kennis gemaak.

Die Suid-Afrikaner Thabo Rateleki ski Maandag om ’n hek in die eerste wedloop van die reuse-slalom. Foto: Getty Images

Hulle sal nou weet of dié sport een is waarin hulle hul vaardighede in die toekoms wil slyp.

Hanlé het Dinsdag in die slalom in ’n tyd van 2:35.08 37ste geëindig.

Die Switser Amelie Klopfenstein, die gouemedaljewenner in die reuse-slalom, was een van 39 deelnemers wat nie albei wedlope kon voltooi nie.

Alexander Heath, haar afrigter, sê Hanlé was voor haar tweede nommer emosioneel nie op ’n goeie plek nie ná Sondag se drama toe sy en twee ander vroue saam met hom in ’n ski-hyser vasgesit en die tweede wedloop van die reuse-slalom misgeloop het.

Hanlé het in die eerste wedloop 75ste van die 78 deelnemers weggespring en in 1:34.18 tot 54ste verbeter.

Dié matriekleerling van die Hoërskool Aliwal-Noord het nietemin ’n baie moeilike en steil baan in Les Diablerets onder veeleisende omstandighede oorwin.

Thabo Rateleki en Hanlé van der Merwe vandeesweek op die ski-hellings van Les Diablerets. Dit is meer as ’n uur van die Speledorp in Lausanne. Foto: Facebook

Heath sê die baan vir die slalom was so glad soos ’n ysskaatsbaan en Hanlé het besonder goed gevaar om dié nommer te voltooi.

“ ’n 37ste plek op die Jeug-Winterspele is nie te versmaai nie,” sê Heath, ’n voormalige Olimpiese skiër.

Nadat Heath appèl aangeteken het by die Internasionale Skifederasie (Fis) en die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) én op die hoogste vlak vir sy atleet moes baklei, is haar posisie in die reuse-slalom later die week tot 40ste aangepas.

Ook Thabo het baie goed gevaar deur die slalom in die 39ste plek te voltooi nadat hy vroeër in die tweede wedloop van die reuse-slalom gediskwalifiseer is.

“Ek is trots op sy vertonings,” sê Heath van dié matriekleerling van die Hoërskool Barkly-Oos.

“Dit was ’n plesier om albei skiërs af te rig. Hulle het Suid-Afrika met onderskeiding verteenwoordig,” sê hy.

Die Jeugspele duur tot Woensdag.

Meer oor:  Ski  |  Jeugspele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.