Die veelbesproke geveg tussen die twee Britse boksers Anthony Joshua en Tyson Fury om te bepaal wie die onbetwiste swaargewig-bokskampioen van die wêreld is, kan in die Midde-Ooste plaasvind, sê die promotor Eddie Hearn.

Anthony Joshua wil graag sy spiere teen Tyson Fury bult. Foto: Getty Images
Joshua het Kubrat Pulev van Bulgarye verlede maand verslaan om sy titels van die Internasionale Boksfederasie, Internasionale Boksorganisasie, Wêreldboksorganisasie en Wêreldboksvereniging te behou.
Dit het die deur geopen vir ’n geveg teen Fury, wat die Wêreldboksraad se kampioen is.

Tyson Fury was in Februarie verlede jaar laas in aksie toe hy Deontay Wilder uitgeslaan het. Foto: Getty Images
“Die ooreenkoms is bereik, maar nog nie onderteken nie,” het Hearn aan The Times gesê.
“Die finansiële aspekte van die ooreenkoms is afgehandel. Ons is besig om oor die uitsaai-situasie te praat – die enigste ding is om alles nou op papier te kry.
“En wanneer jy ’n ooreenkoms soos daardie op papier het, gaan dit 15 keer heen en weer voordat elke enkele letter in die dokument goedgekeur word.”
Fury het nog nie geboks sedert hy Deontay Wilder van Amerika in Februarie in hul herontmoeting verslaan het om die WBR-kroon syne te maak nie.
Hearn het gesê Joshua en Fury sal mekaar twee keer pak, en die eerste geveg sal later vanjaar iewers in die Midde-Ooste en die tweede in Brittanje wees.