Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Anthony Joshua wys Andy Ruiz wie is baas

Anthony Joshua van Brittanje het Saterdag in Saoedi-Arabië slegs die vierde swaargewigbokser geword wat sy titel(s) in ’n onmiddellike herontmoeting terugwen.

Joshua het Andy Ruiz, wat hom ses maande gelede in New York onttroon het, in Riaad oortuigend met punte verslaan.

Anthony Joshua was verheug om weer vier boksbeheerliggame se swaargewigtitels te hou. Foto: AP

Die beoordelaars het die geveg met 118-110, 118-110 en 119-109 aan Joshua toegeken.

Die ander swaargewigte wat hul titels in ’n onmiddellike herontmoeting kon terugwen, was Floyd Patterson (in 1960 teen Ingemar Johansson), Muhammad Ali (in 1978 teen Leon Spinks) en Lennox Lewis (in 2001 teen Hasim Rahman).

Soos vooraf verwag, het Joshua hierdie keer sy voetwerk gebruik om uit die moeilikheid te bly en punte met sy reguitlinker in te samel.

Andy Ruiz kon hierdie keer nie naby Joshua kom nie. Foto: AP

“Ek is daaraan gewoond om ouens uit te slaan, maar ek kon dit nie laas keer (teen Ruiz) regkry nie en het verloor. Daarom het ek hierdie keer die soet wetenskap van boks gebruik om ’n oorwinning te verseker,’’ het Joshua ná die geveg aan Sky Sports gesê.

Ruiz het, behalwe vir ’n paar goeie oomblikke in die vierde en agtste ronde, ’n teleurstellende vertoning gelewer.

Hy het gesê dit was omdat hy te swaar was. “Ek het drie maande lank feesgevier nadat ek die titels gewen het en dit was ’n groot fout,” het die Mexikaan gesê.

Ruiz het aan Joshua gevra of hulle vir ’n derde keer teen mekaar kan boks, en dit het geklink of die Brit ingestem het.

As die Internasionale Boksfederasie (IBF) egter sy gesag afgedwing kry, sal Joshua volgende teen dié beheerliggaam se eerste aanspraakmaker, Kubrat Pulev van Bulgarye, boks. Benewens die IBF se titel, het Joshua Saterdag terselfdertyd ook die Wêreldboksvereninging (WBV), die Wêreldboksorganisasie (WBO) en Internasionale Boksorganisasie (IBO) se titels teruggewen.

Joshua se krytvernuf was een te veel vir Ruiz. Foto: AP

Sy promotor, Eddie Hearn, het al voorheen van ’n geveg tussen Joshua en die voormalige junior-swaargewigkampioen Olseksandr Usyk van die Oekraïne gepraat.

Die meeste boksondersteuners sou dalk eerder vir Joshua teen die Wêreldboksraad (WBR) se kampioen, Deontay Wilder, of die hoogaangeskrewe Tyson Fury in aksie wou sien.

Wilder en Fury pak mekaar weer volgende jaar in Februarie. Hul vorige geveg het gelykop geëindig.

Meer oor:  Boks  |  Andy Ruiz  |  Anthony Joshua
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.