Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
JP se terugslag gee fietsry in Afrika hupstoot

Toe die Suid-Afrikaanse baanfietsryer JP van Zyl in 2004 besluit het om dié sport vaarwel toe te roep, het hy met ’n skok besef die oorgang van beroepsportman na dié van ’n werkende persoon is bitter moeilik.

JP van Zyl in aksie tydens die Statebondspele in 1998 in Maleisië. Foto: Gallo Images

Juis daarom is dit vandag steeds sy passie dat sportlui, en veral fietsryers, moet voorberei vir die dag wanneer hul speke ophou sing.

Die 44-jarige Van Zyl het in sy dae as ryer twee medaljes by die Wêreldbaanfietsry-kampioenskappe verower – een van net twee Suid-Afrikaners wat daar op die podium kon staan. Die ander een was Nolan Hoffman.

“Dit is ’n verskriklike oorgang. Daar is niemand wat vir jou masserings gee nie. Niemand piep jou op en vra of jy oukei is nie.

“Die een oomblik dink jy nog hy is so spesiaal en almal ken jou en gesels met jou as jy die wedrenne wen. En ’n jaar daarna weet mense nie meer regtig wie jy is nie, want jy staan nie meer op podiums oor die wêreld heen nie,” sê Van Zyl.

Ek wil verseker dat Afrika nie net op fietsry fokus nie, maar ook op opvoeding.

“Ek dink as beroepsatleet is dit belangrik om te gaan studeer of jou dalk as afrigter te bekwaam gedurende jou sportloopbaan. Veral beroepsatlete, want jou loopbaan kan vinnig verby wees.

“Jy kan beseer raak en nie meer geld kry nie, en dan het jy niks. Baie van dié mense gaan uit die skool uit, en my boodskap aan ouers is om hul kinders op skool te hou. Dwing hulle om universiteit toe te gaan, want jou loopbaan kan so tien jaar hou as jy ’n goeie fietsryer is.

“As jy ongelukkig is, hou dit dalk net twee of drie jaar. Dan het jy niks om op terug te val nie.

“Dit is waar ek nou is, ek wil verseker dat Afrika nie net op fietsry fokus nie, maar ook op opvoeding. Dit is vir my belangrik as hulle nie meer ’n fietsryer is nie, hulle ’n afrigter, ’n werktuigkunde of ’n administrateur by ’n federasie kan word,” sê Van Zyl, wat in die Paarl direkteur van die Afrika-kontinent is by die “Wêreldfietsry-sentrum Afrika”.

JP van Zyl tydens die Wêreldbeker-baanbyeenkoms in 2003 in Kaapstad. Foto: Leon Botha

Dié Potchefstromer van geboorte se groot droom was om ’n medalje by die Olimpiese Spele te verower, maar hy moes in 2004 – toe hy op die kruin van sy loopbaan was – sien hoe daardie ideaal aan skerwe spat.

Dit omdat die destydse Noksa, voorganger van die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee, se reëls bepaal het dat net die voorste 12 atlete of spanne op die wêreldranglyste sal gaan. Hy en Robbie Dale was toe 13de op die wêreldranglys in die madison en die plan was dat Van Zyl die land saam met Robert Hunter in dié item by die Spele sou verteenwoordig.

“Dit was vir my ’n baie groot teleurstelling en dit het gelei tot my uittrede op 29. Dit was my mikpunt om ’n Olimpiese medalje te wen, en toe is daardie geleentheid net daarmee heen. In daardie stadium was die administrasie ook nie van so ’n aard dat ek meer vir my ’n toekoms in fietsry gesien het nie,” sê Van Zyl.

Maar fietsry wou hom nie los nie en sonder dat hy dit toe besef het, het sy teleurstelling uiteindelik daartoe gelei dat fietsry op die Afrika-vasteland teen ’n geweldige spoed ontwikkel het.

Kort nadat hy die tuig as beroepsryer neergelê het, is hy deur Hein Verbruggen, destydse president van die Internasionale Fietsryunie, genader om die sport in Afrika te help ontwikkel.

“Hy was deel van diegene wat gevra het hoe dit moontlik is dat iemand wat derde by die Wêreldkampioenskappe was, nie na die Spele gaan nie, want dit is nodig dat Afrika daar verteenwoordig word.

“Toe vra hy my om met ’n model vorendag te kom vir wat nodig gaan wees sodat meer ryers van Afrika kan kwalifiseer vir die Spele. Dit is basies waar ek vandag is en wat my passie is.

“En so kwaad soos wat ek vir Noksa in daardie stadium was, kan ek nie ’n slegte woord van hulle sê nie. Sam Ramsamy (destyds president van Noksa) het vir ons betaal om oor die wêreld heen te gaan deelneem. Maar ons het nie ’n stelsel gehad soos byvoorbeeld in Australië waar hulle ’n instituut vir sport het nie. Dit is hoe die Wêreldfietsry-sentrum Afrika ontstaan het,” sê Van Zyl.

Aanvanklik was hy ’n afrigter wat die kontinent deurkruis het op soek na talentvolle ryers en was ook betrokke by die vestiging van die Afrika-kampioenskappe.

“Dan het ons daardie goeie ryers na Suid-Afrika gebring en saam met hulle geoefen in Potchefstroom waar ons eers was. Daar het ons probeer om hulle goeie en professionele afrigting te gee soos wat ek in my loopbaan gehad het.

“Dit het daartoe gelei dat ryers uit Afrika gekwalifiseer het vir die Olimpiese Spele in 2008 en 2012,” sê Van Zyl.

Daniel Teklehaimanot met die trui as Bobaas van die Berge tydens 2015 se Tour de France. Foto: Getty Images

Bekende ryers van Afrika wat aan die Tour de France deelgeneem het, soos Daniel Teklehaimanot van Eritrea, sy landgenoot Merhawi Kudus en Ethiopië se Tsgabu Grma is ook deur Van Zyl-hulle se hande.

Dié drietal het almal voorheen vir die Suid-Afrikaanse beroepsspan MTN-Qhubeka – soos NTT tevore bekend gestaan het – gery.

Teklehaimanot het tydens 2015 se Tour die trui as Bobaas van die Berge vir vier skofte gedra.

“Hulle het die gesigte van Afrika-fietsry in Europa geword, iets wat niemand gedink het moontlik is nie. Dit is die bevrediging wat ek gekry het ná my loopbaan.”

Meer oor:  Fietsry
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.