Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
‘Kalmer’ Schumi in dié opsig beter as sy pa

Mick Schumacher is volgens Ferrari se Jock Clear ’n “kalmer” renjaer as sy beroemde pa, Michael.

Mick Schumacher word geloof vir sy kalm geaardheid en die vordering wat hy as jong F1-renjaer maak. Foto: Getty Images

Clear is Mick se afrigter by die Ferrari-renjaersakademie en was ook die werkverrigting-ingenieur vir Michael in sy laaste twee jaar saam met Mercedes.

Die jong Schumacher beleef sover ’n moeilike eerste jaar in Formule Een aangesien sy Haas-span tans eerder fokus op die ontwikkeling van ’n mededingende renmotor vir volgende seisoen en die agterhoede dek in wedrenne.

Schumacher is 18de uit 20 renjaers in die wêreldkampioenskap en het vanjaar nog nie ’n enkele punt verwerf nie. Hy het in sy eerste sewe F1-wedrenne onderskeidelik 16de, 16de, 17de, 18de, 18de, 13de en 19de geëindig.

Dit is onvermydelik dat vergelykings getref word tussen die 22-jarige voormalige F3- en F2-kampioen en sy pa, ’n sewemalige F1-wêreldkampioen.

Jock Clear sê die ooreenkomste én verskille tussen Mick en Michael Schumacher is fassinerend. Foto: Getty Images

Clear sien duidelike ooreenkomste tussen pa en seun.

“Mick se houding in die (Haas)-span is baie positief,” sê Clear in ’n onderhoud met SportBild.

“Die manier waarop hy te werk gaan, is byna selfs beter as hoe sy pa dinge gedoen het, want hy is van nature ’n kalmer persoon.

“Hulle sê aardjie na sy vaartjie. Dit is geen verrassing dat Mick ook oor baie van Michael se eienskappe beskik nie.

“Dit is fassinerend vir ons by Ferrari, wat al saam met albei Schumachers gewerk het, om die ooreenkomste asook die verskille tussen Michael en Mick te sien.

“Almal is uiteindelik anders en daar is meer as een manier om ’n kampioen te word.”

Clear glo Mick het ’n blink toekoms voor hom indien hy in ’n mededingende renmotor kan jaag, maar is versigtig om oor moontlike F1-titels te praat.

“Dit is steeds te vroeg om te sê of hy al die eienskappe het om ’n wêreldkampioen te kan word,” sê Clear.

“Maar ons het nog nie iets raakgesien wat hy makeer nie. Hy het ’n ver pad om te stap, maar hy beweeg beslis in die regte rigting. Ons hoop hy gaan voort om te verbeter.

“Hy doen alles wat ons van hom vra en hy behaal uitstekende resultate. Ons kan nie vir meer as dit vra nie.

“Maar die tyd sal leer of hy onder druk die mas kan opkom, wanneer hy voorloop en wanneer hy die geleentheid kry om vir die eerste wegspringplek mee te ding.

“Daardie scenario is baie anders as nou, waar hy in ’n onderpresterende renmotor teen ’n spanmaat (die Rus Nikita Mazepin) in ’n tweestryd gewikkel is.” – Sportredaksie

Meer oor:  F1  |  Jock Clear  |  Mick Schumacher  |  Ferrari  |  Motorsport  |  Michael Schumacher
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.