Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Kampioen Lewis maak sy hart oop oor Lauda

Die 34-jarige Britse renjaer Lewis Hamilton raak al hoe meer filosofies soos hy ouer word.

Hy het Sondag sy sesde Formule Een-titel gewen, maar was agterna emosioneel en het nabetragting gehou oor verlies, demone en persoonlike groei.

Lewis Hamilton vier fees nadat hy Sondag in Austin, Texas, sy sesde wêreldtitel gewen het. Foto: AP

Hamilton se tweede plek in die Amerikaanse Grand Prix in Austin, Texas, was genoeg om die titel syne te maak. Hy het die seisoen 381 punte ingesamel.

Valtteri Bottas, sy Mercedes-spanmaat, was die kampioen in Austin. Dit was sy vierde oorwinning van die seisoen.

Hamilton het die wêreldtitel ook in 2008, 2014, 2015, 2017 en 2018 gewen en het nou net een titel minder as die sewe van die Duitse maestro Michael Schumacher.

Toe hy uitgevra is oor waar sy sesde titel inpas, het Hamilton geantwoord “elke reis is verskillend”.

“Jy gaan elke jaar deur ’n ander soort wipwaentjierit van emosies om te kom waar jy moet wees.

“Elkeen van ons stry teen iets in die lewe.

“Ek probeer mense wys dat van buite af lyk dinge altyd fantasties, maar dit is nie altyd die geval nie.

“Ek sukkel ook met baie verskillende dinge en stry teen sekere demone. Ek probeer seker maak dat ek voortdurend as ’n persoon groei,” sê Hamilton.

BAKU, AZERBAIJAN - APRIL 29: Mercedes GP non-execu
Niki Lauda. Foto: Getty Images

Hy erken hy vind dit moeilik om die dood van die voormalige wêreldkamioen Niki Lauda te verwerk.

Die Oostenryker was ’n vriend van hom en het as nie-uitvoerende voorsitter van Mercedes hom na die span gelok.

Lauda is in Mei vanjaar dood.

Die gevare van sy sportloopbaan het Hamilton ook geruk toe die 22-jarige Fransman Anthoine Hubert tydens die Belgiese Grand Prix in ’n hoëspoed botsing dood is.

“Ek het nie gedink Niki se dood sou my so erg ruk nie.

“Dit was baie ontstellend. Ek mis hom erg en het nie besef hoe lief ek vir hom was nie.”

Hamilton sê hy het gesien hoe Hubert sterf.

“As so iets gebeur veroorsaak dit twyfel in jou kop. Moet ek ophou of aangaan? Daar is ’n lewe ná motorsport.

“Ek wil nog tyd saam met my familie deurbring en self eendag ’n gesin hê.

“Maar terselfdertyd is ek lief vir dit wat ek doen. Nie baie kan dít verander nie.”

Hamilton sê hy sal eers ná die seisoen ’n terugbeskouing hou.

Met nog twee wedrenne oor, is daar nog werk om te doen, sê hy.

Die Brasiliaanse Grand Prix word op 17 November beslis en op 1 Desember jaag hulle in Abu Dhabi.

“As die werk klaar is, sal ek terugsit en ’n bier geniet.

“Ek sal my voete lig, by my honde wees en dan terugkyk op wat ’n skitterende jaar was.

“Ek wil heeltyd verbeter. Ek geniet dit regtig om in dié sport te wees.” – Reuters

Michael Schumacher
Michael Schumacher in 2006 op Monza. Foto: Getty Images
 
Schumacher teen Hamilton

Wedrenne: Schumacher 307, Hamilton 248.

Wêreldtitels: Schumacher 7, Hamilton 6.

Grand Prix-oorwinnings: Schumacher 91, Hamilton 83.

Voorste wegspringplek: Schumacher 68, Hamilton 87.

Vinnigste rondte: Schumacher 77, Hamilton 46.

Meeste oorwinnings in ’n seisoen: Schumacher 13, Hamilton 11.

Meer oor:  F1  |  Lewis Hamilton  |  Grand Prix  |  Fornule Een
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.