Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Ryan bereik Robbeneiland-mylpaal
Ryan Stramrood kry agterna ’n stort met vonkelwyn. Foto: Caleb Bjergfelt

Die Kaapse oopwater-swemmer Ryan Stramrood het Donderdag net die tweede persoon geword om honderd swemtogte tussen Robbeneiland en Kaapstad te voltooi.

Hy het die mylpaal-swemtog in 2 uur en 18 minute afgelê.

Stramrood het dié uitmergelende 7,4 km tussen die eiland en Grootbaai in Bloubergstrand opgedra aan sy vriend en uithou-swemmer Theodore Yach, wat in Oktober verlede jaar oorlede is.

Yach het 108 keer die eiland-swemtog geswem.

Stramrood het saam met Yach geswem toe laasgenoemde sy 100ste resies geswem het.

“Ek het dikwels saam met hom geoefen en geswem. Theo het in 2015 my 50ste keer saam met my geswem, en sou vandag hier gewees het vir my 100ste,” sê Stramrood.

Dit was my 100ste en ek het dit gemaak. Dit was moeilik op die water. Dit was koud en die see was kabbelrig. Ek is baie gelukkig.
Ryan Stramrood

Hy was baie tevrede toe hy by Grootbaai uit die water gekom het. “Geen swemtog van Robbeneiland is ooit maklik nie.

“Dit was my 100ste en ek het dit gemaak. Dit was moeilik op die water. Dit was koud en die see was kabbelrig. Ek is baie gelukkig.”

Lewis Pugh, ’n oopwater-swemmer en omgewingsaktivis, het Stramrood op ’n ondersteuningsboot vergesel.

“Dit is ’n ongelooflike prestasie. Ek swem al vir 32 jaar en het nog nooit ’n maklike Robbeneiland-tog gehad nie. Ryan het nou 100 gedoen,” sê Pugh.

Ryan Stramrood swem Donderdag van Robbeneiland na Grootbaai in Bloubergstrand, vergesel deur Mark de Klerk, wat die swemtog vir die 30ste keer voltooi het. Foto: Caleb Bjergfelt

“Dit is onvoorspelbaar. Jy mik na twee uur en dan verander die toestande en dit neem jou drie uur. Ryan is geestelik taai en ken van vasbyt.”

Stramrood het in 2003 die eerste keer die Robbeneiland-swemtog aangedurf en sedertdien verskeie roetes en afstande afgelê, onder meer die eerste amptelike ysmyl in Antarktika in 2014.

Hy glo met die regte houding en gereelde oefening kan enigeen na die eiland swem. “Dit is ’n fantastiese persoonlike doelwit om te hê. Jy moet eenvoudig jou doel stel en die natuurlike verdedigingsmeganisme in jou kop verstel, daai een wat vir jou sê ‘dit is te moeilik vir my.’” – Sportredaksie

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.