Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Karla Mostert gee haar trofee vir kleinsus
Karla (links, 26) en Tanya (22) Mostert van die Vrystaat-Crinums. Karla het Saterdag haar trofee as speler van die wedstryd vir Tanya gegee, omdat sy gereken het sy is ’n meer verdienstelike ontvanger daarvan. Foto: Conrad Bornman

Op die netbalbaan is sy selfsugtig deur heeltyd haar teenstanders se balbesit te wil gaps, maar van die baan af deel Karla Mostert alles met ander.

Selfs haar trofee as speler van die wedstryd, en dít nogal in ’n eindstryd wat vir enige speler van groot sentimentele waarde is.

Karla, die land se onderskepkoningin, is ná Saterdag se eindstryd van die nasionale premierliga met ’n geskenkbewys en ’n trofee vereer. Dadelik daarna het sy na haar jonger suster Tanya gestap en die trofee in haar hand gestop. Sy het ook haar prysgeld met haar sussie gedeel.

“Sy moes dit (die speler van die wedstryd-eerbewys) gekry het. Ek kon nie anders as om dit vir haar te gee nie. Ek weet sy sal vir my ’n lekker koppie koffie daarvoor koop,” het Karla gesê.

“Ek is baie trots op haar en dat sy so verskriklik hard werk en nie altyd die erkenning kry wat sy verdien nie. Sy het die naweek net weer haar waarde vir die span gewys,” het die 26-jarige Karla oor haar ewe blonde 22-jarige sussie gesê.

Dit was Karla se tweede speler van die wedstryd-eerbewys in drie wedstryde. Die vorige keer (in die kwarteindstryd teen die Gauteng-Fireballs) het sy ook gereken haar sussie moes eintlik die aanwysing ontvang het en het toe ook met haar die prysgeld gedeel.

Die ouer Mostert-sussie, wat die een eerbewys ná die ander in haar senior netballoopbaan inryg, is in vier van haar laaste sewe wedstryde vir die Crinums (twee in 2015 en vyf in 2016) as die beste speler op die baan aangewys.

“Dit was so spesiaal om die trofee van haar te ontvang. Karla gun ander mense altyd sukses en erkenning. Ons albei sal nooit iemand anders van enige erkenning ontneem nie. Dit is maar hoe ons grootgemaak is,” het Tanya – wat deur baie mense as ongelukkig geag word om nie soos haar ousus vir die Protea-oefengroep gekies te word nie – gesê.

“Ja, ek sou sê die eindstryd was my beste wedstryd in die reeks. Ek het dit baie geniet. Karla sê ook altyd wanneer ’n mens die spel geniet, sal jy op jou beste speel.”

Karla se mededeelsaamheid is reeds op laerskool in Centurion deur haar onderwysers raakgesien.

“Sy was in gr. 1 of gr. 2 toe daar verskillende pryse uitgedeel is. Ons het verwag sy sou die sportprys ontvang, maar toe kry sy die een vir minsaamheid,” het Magda Mostert oor haar oudste dogter gesê.

Karla en Adéle Niemand het ook dikwels vantevore, toe hulle die verdedigerpaar was, hul prysgeld met mekaar gedeel.

Meer oor:  Karla Mostert
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.