Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Kaylene en vrouespan kwalifiseer

Die vierde dag van die Suid-Afrikaanse swemkampioenskappe het Saterdag verskeie plekke by die Olimpiese- en Paralimpiese Spele op die spel gehad wat opgeraap is.

Kaylene Corbett, wat Vrydagaand uitgemis het op Olimpiese kwalifikasie in die 200 m-borsslag nadat sy silwer gewen het in 2:26.59, het Saterdag die organiseerders genader en vir ’n tydtoets gevra in ’n poging om op haar tyd te verbeter en Fina, die wêreldbeheerliggaam vir swem, se A-standaard na te jaag.

Kaylene Corbett het Saterdagaand tydens ’n tydtoets vir die Olimpiese Spele gekwalifiseer in die 200 m-borsslag. Foto: Gallo Images

Corbett, wat alleen in die swembad moes klim sonder enigiemand wat haar kon druk, het presies dit gedoen en naelskraap beter gevaar in 2:25.18.

Hiermee het sy amptelik vir die Olimpiese Spele gekwalifiseer waar sy saam met Tatjana Schoenmaker, wat Vrydagaand die voorste tyd in die wêreld vir 2021 in dié nommer geswem het, sal meeding.

Die viertal van Aimee Canny, Emma Chelius, Erin Gallagher en Rebecca Meder was uitstekend in die 4x100 m-vryslag waar hulle ook vir die skouspel, wat in Julie begin, gekwalifiseer het.

Hulle wentyd van 3:40.29 was naasbeste buite die 12 spanne wat reeds outomaties gekwalifiseer het ná afloop van 2019 se Wêreldkampioenskap wat in Gwangju gehou is.

Dit was boonop ’n uiters suksesvolle dag in die Newton Park-swembad vir die para-atlete met Hendrik van der Merwe (100 m-borsslag), Christian Sadie (50 m-vlinderslag) en Alani Ferreira (100 m-borsslag) wat almal vir die Paralimpiese Spele gekwalifiseer het.

Hendrik van der Merwe (SB5-kategorie) het die Paralimpiese Spele se A-standaard verbygesteek in die uitdunne van die 100 m-borsslag. Foto: Gallo Images

Van der Merwe (SB5 vir atlete met min tot geen gebruik van hul bene) het die Paralimpiese Spele se A-standaard (1:48.80) gemaklik verbygesteek in die uitdunne (1:43.21). Ofskoon hy dit nie weer in die eindronde kon doen nie, sal hy nie ontevrede voel nie.

Net so was Sadie (S7 vir swemmers met ’n beperkte beengebruik) weer eens ’n uitblinker nadat hy beter as die A-standaard (32.90) gevaar het in die uitdunne met sy tyd van 30.86.

Net soos Ferreira was hy ’n rapsie stadiger in die eindronde met 30.91, maar was dit steeds beter as die verlangde tyd en genoeg vir die goue medalje.

Kaleb van der Merwe (S8 vir atlete met amputasies of serebrale gestremdheid) het die Suid-Afrikaanse rekord in die 50 m-vlinderslag in die uitdunne (32.62) sowel as in die eindronde (32.26) verbeter.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.