
Kommetdieding is een van die gunstelinge om Saterdag by Kenilworth in Kaapstad die Cape Derby te wen. Foto: Facebook/Gold Circle
Die kollig sal hierdie naweek nie net op die land se topjokkies val op ’n groot perdewedrenbyeenkoms wat by Kenilworth in Kaapstad gehou word nie.
Die hoogtepunt van die dag is die Cape Derby oor 2 000 m, waar die land se beste driejarige perde – soos Kommetdieding, The Gatekeeper en Russian Rock – mekaar die stryd aansê.
Dit is die sewende wedren op die program, maar die laaste wedren, die negende, maak ook heelwat belangstelling gaande.
In dié wedren oor 1 200 m pak sewe van die land se topjokkies en sewe van die land se topwerkryers mekaar in ’n spankompetisie.
Die ryers sal punte kry vir die posisies waarin hulle eindig en so sal die wenspan bepaal word.
Die jokkies se span is: Luoyo Mxothwa (kaptein), Luke Ferraris, Richard Fourie, Grant van Niekerk, Anton Marcus, Keagan de Melo en Greg Cheyne. MJ Byleveld is die bestuurder.
Die werkryers se span is: William Bambiso (kaptein), Lungisani Geledu, Andile Nzongo, Erin-Lee Watkinson, Sibusiso Booi, Sebenzile Tamela en Mncedi Sigenu. Craig du Plooy is die bestuurder.
• Voor Saterdag se byeenkoms by Kenilworth, vind die volgende byeenkomste plaas: Woensdag by Greyville in Durban, Donderdag by die Vaal in Johannesburg en Vrydag by Fairview in Port Elizabeth. – Sportredaksie