Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Koning Hamilton dra nóg ’n kroon

Die sesmalige Formule Een-wêreldkampioen, Lewis Hamilton, het Sondag op die Algarve-baan in Portugal die mees suksesvolle Formule Een-renjaer tot nog toe geword toe hy die Portugese Grand Prix gewen het.

Hy het sodoende verby Michael Schumacher se vorige beste van 91 loopbaanoorwinnings geskuif nadat hy ’n yslike 25.592 sekondes voor sy Mercedes-spanmaat, Valtteri Bottas, geëindig het en sy 92ste sege behaal het.

Lewis Hamilton gooi sy arms in die lug voor ’n plakkaat van homself ná sy sege in die Portugese Formule Een-Grand Prix. Foto: AP

Hy het ook die vinnigste rondtetyd opgestel en is nou 77 punte voor Bottas op die puntelys, met slegs vyf renne oor.

“Jy is besig om die rekordboeke te herskryf,” het sy Mercedes-span oor die radio laat weet.

Waarna Toto Wolff, die spanbaas, bygevoeg het: “Lewis, 92, 92”.

’n Beskeie Hamilton het ná sy sege gesê hy is baie dank aan “hierdie ouens en die span werktuigkundiges tuis” verskuldig.

“Dit is só ’n groot voorreg om saam met hulle te werk,” het Hamilton gesê toe hy langs die ren-ingenieur, Pete “Bono” Bonnington, op die podium gestaan het.

Max Verstappen (Red Bull) was derde op die Algarve- baan wat 24 jaar laas ’n Formule Een-ren aangebied het.

Maar daar was drama aan die begin toe Bottas die voortou geneem het net om in die tweede rondte deur Carlos Sainz (McLaren) verbygesteek te word.

Hamilton was derde en Verstappen het afgeskuif vyfde toe terwyl dit liggies begin reën het.

Bottas het in die sesde rondte weer verby Sainz geskuif, maar is in die 19de rondte deur Hamilton ingehaal . . . waar hy enduit gebly het.

Hamilton, wie se pa die ren bygewoon het, het krampe begin kry met nog sewe rondtes oor, maar hy het dit afgeskud om ’n reeks vinnigste rondtetye op te stel.

“Ek sou nooit kon droom oor waar ek vandag staan nie,” het Hamilton, wat sy agtste ren van die seisoen gewen het, gesê.

Dit was ook sy 71ste oorwinning vir die Mercedes-span nadat hy 21 renne vir McLaren gewen het.

“Ek het nie ’n kristalbal gehad toe ek my by die span aangesluit het nie. Maar nou is ek hier en probeer om die beste van elke dag te maak.”

Ferrari se Charles Leclerc was vierde gevolg deur AlphaTauri se Pierre Gasly, met Sainz sesde.

Die Emilia Romagna-wedren is volgende Sondag op die program op Imola in Italië. – Reuters

Meer oor:  Lewis Hamilton  |  Formule Een  |  Brittanje
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.