Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Koronavirus stoomroller wêreldsport

Leë stadions vir die Suid-Afrikaanse krieketspan, geen Pro14-rugby in die afsienbare toekoms nie, die kansellering van die Australiese Grand Prix en die onmiddellike opskorting van twee internasionale tennistoernooie in Potchefstroom.

Dít is net ’n paar van die aankondigings wat Donderdag gemaak is, op ’n dag wat die koronavirus die sportwêreld behoorlik gestoomroller het.

’n Toeskouer wag met ’n serp oor sy mond vir die begin van die eerste eendagwedstryd tussen Suid-Afrika en Indië, wat eindelik deur reën in die wiele gery is. Foto: Reuters

’n Dag nadat die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) Covid-19 tot ’n wêreldwye pandemie verklaar het en verskeie regerings die kansellering van byeenkomste waar groot massas mense sou vergader bepleit het, is ’n verskeidenheid sportsoorte in alle uithoeke van die wêreld geraak.

Krieket

* Die laaste twee wedstryde van Suid-Afrika en Indië se eendagreeks sal Maandag en Woensdag in dolleë stadions plaasvind.

Cricinfo berig dié besluit is geneem nadat die Indiese regering die Indiese Krieketraad (BCCI) en etlike ander sportfederasies Donderdag aangesê het om sportbyeenkomste waar groot skares teenwoordig sal wees, te “vermy”.

Lucknow sal die tweede eendagwedstryd Maandag aanbied en Kolkata die derde een Woensdag.

Donderdag se eerste eendagwedstryd is deur reën in die wiele gery.

* Daar is gerugte dat die Indiese Premierliga ook sonder toeskouers sal plaasvind. Die kompetisie se besturende raad sal Saterdag vergader om dit te bespreek.

Die toernooi is geskeduleer om op 29 Maart te begin.

In ’n verdere terugslag vir die kompetisie sal dit straks nie voor 15 April enige buitelandse spelers insluit nie, aangesien die Indiese regerings alle visums vir buitelanders tot daardie datum gekanselleer het.

* Die twee wedstryde wat op 21 en 22 Maart in Bangladesj tussen ’n Asiese elftal en Wêreld-elftal sou plaasgevind het, is gekanselleer. Faf du Plessis sou die kaptein van die Wêreldspan gewees het.

Rugby

* ’n Besluit is Donderdagaand geneem om alle Pro14-rugbywedstryde vir die afsienbare toekoms te skrap. Volgens ’n verklaring is dié besluit geneem omdat die reeks in etlike lande plaasvind en regerings in twee daarvan – Italië en Ierland – reeds openbare aktiwiteite begin inperk het.

“Ons het hierdie besluit met almal se gesondheid in ons gedagtes geneem,” het David Jordan, die Pro14 se toernooi-direkteur gesê.

Motorsport

* Die komende naweek se Australiese Grand Prix is van die baan, nadat gevind is dat ’n spanlid van McLaren die koronavirus het.

McLaren het dadelik aan die Grand Prix onttrek, maar volgens die BBC het ander spanbase en beamptes van die FIA (Formule Een se moederliggaam) besluit om nietemin voort te gaan met die ren.

Dit het verander nadat verskeie jaers hul bekommernisse met die FIA bespreek het. Die besluit om die ren te kanselleer is glo rondom 02:00 Vrydagoggend (Melbourne-tyd) geneem.

Tennis

* Die Potch Ope- en Illana Kloss-tennistoernooie het Donderdag die eerste Suid-Afrikaanse sportbyeenkomste geword wat deur die koronavirus in die wiele gery is.

Dié toernooie was veronderstel om Saterdag ten einde te loop, maar is Donderdag summier gestaak nadat sowel die ATP-reeks (wat die Potch Ope as deel van sy Challenger-reeks aanbied) as die Internasionale Tennisfederasie (onder wie se vaandel die Illana Kloss-toernooi val) besluit het om hul bedrywighede onmiddellik te staak.

Dus sal toernooie soos die Miami Ope, die Fayez Sarofim & Co-kampioenskap in Houston, die Grand Prix Hassan II in Marrakesj, die Monte Carlo-meesterstoernooi, Barcelona Ope en Hongaarse Ope nie meer plaasvind nie.

Sokker

* Die moederliggaam van Europese sokker, Uefa, het ’n noodvergadering belê om te besluit oor die toekoms van vanjaar se Euro2020- en Europese Kampioeneliga-reekse. Die Franse koerant L’Equipe berig dat die Euro-kompetisie tot aanstaande jaar uitgestel sal word, sodat die Europese klubseisoen vir eers onderbreek word en dan in die Noordelike Halfrond se somer voltooi kan word.

* In Nederland is al die naweek se wedstryde in die Eredivisie en Keuken Kampioendivisie (die tweede liga) uitgestel.

* Drie spelers van die Engelse klub Leicester City is in self-afsondering ná hulle simptome van die koronavirus getoon het.

* Die Spaanse La Liga is “vir minstens die volgende twee rondes” gekanselleer nadat die ganse Real Madrid in kwarantyn geplaas is. ’n Real Madrid-basketbalspeler, wat oefengeriewe met die sokkerspan deel, positief vir die virus getoets het.

Real se Kampioeneliga-wedstryd teen Manchester City, wat komende Dinsdag sou plaasvind, is ook vir eers van die baan.

* Alle Ierse sokkerwedstryde tot einde Maart is gekanselleer.

Gholf

* Die Amerikaanse PGA-reeks se Players-kampioenskap het Donderdag begin met toeskouers buite die toue, maar sal van Vrydag af niemand deur die hekke laat nie.

Jay Monahan, die PGA-kommissaris, het gesê dieselfde lot wag op die komende weke se Valspar-kampioenskap in Florida, die Dell-putjiespelkampioenskap in Austin, Texas en die Valero Texas Ope in San Antonio.

Meer oor:  Koronavirus  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.