Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Koue ’n kopseer vir Brad Binder en MotoGP
Brad Binder
Brad Binder

En sommer net so, so te sê uit die bloute, steek nog iets ’n stok in die speke van vanjaar se MotoGP-seisoen.

Die Europese herfs wat blykbaar in alle erns begin het, het gure weer en koel temperature meegebring.

Min dinge het so ’n groot invloed op ’n motorfietsren as koue en nat rubber, veral as dit ’n Grand Prix in die topklas is . . . waar snelhede bereik word wat selfs te vinnig is vir die radars van die spietkops wat in Richmond in die Karoo agter die bossies skuil.

Gewoonlik het die fokus in die stadium van die jaar reeds na die Ooste verskuif, met GP’s in plekke met matige tot warm weersomstandighede soos Thailand, Maleisië en Australië.

Die verkorte 2020-seisoen weens die koronavirus-pandemie het egter daartoe gelei dat alle renne op die Europese vasteland plaasvind. Soos vandag op die Bugatti-renbaan by Le Mans in Frankryk, waar dit reeds koud en onplesierig is.

Vrydag het dit gereën en die jaers loop boonop deur onder rukwinde wat hul fietse onverwags in rodeo-rygoed verander.

Die koue baantemperature het veroorsaak dat sommige vervaardigers, wat die topspanne tot dusver al meer hoofbrekens besorg het, begin terugsak het. Fietse soos die KTM’s en Suzuki’s kry dit nie reg om genoeg hitte in hul voorbande op te bou om optimale bandgreep te verseker nie. Dié twee vervaardigers het ’n baie goeie eerste helfte van die seisoen beleef – juis omdat hul bande eers later behoorlik warm word en gevolglik ook langer gehou het. Maar nou is die loopvlak aan die ander voet.

Brad Binder (Red Bull KTM) het Vrydag behoorlik in die reën gesukkel en aan die einde van die dag, toe die eerste twee oefensessies se tye saamgegooi is, was hy heel laaste.

Hy het aanhoudend sy draaipunte gemis en het daarna gesê dit was ’n dag “om te vergeet.

“Ek het vir vyf of ses rondtes ná mekaar van die baan gery en toe dink my span daar is iets fout. Toe roep hulle my terug kuipe toe. Hulle het gevra: ‘Wat’s fout’, maar daar was niks verkeerd nie.”

Hy is daarna weer uit op die baan, maar het dadelik in draai sewe geval en gevolglik geen mededingende rondtetyd in oefensessie twee opgestel nie.

Gister het die son kop uitgesteek en dit het die Suid-Afrikaner beter gepas. Hy het in die kwalifiseringsessie in ’n stadium tot sewende gevorder, maar weer in draai sewe geval.

Aan die einde van daardie sessie was hy agter op ’n bromponie op pad terug na die kuipe toe die ander ouens hul beste tye opgestel het.

Hy trek vandag gevolglik in die 17de plek weg.

Die Yamaha’s en Ducati’s sit nie met dieselfde probleem van koue bande nie.

Die kampioenskapsvoorloper Fabio Quartararo van Frankryk (Petronas Yamaha) spring voor weg op sy tuisbaan, met Jack Miller (Pramac Ducati) tweede en Danilo Petrucci (Ducati-fabriekspan) derde.

Quartararo is die enigste jaer wat al meer as een ren vanjaar gewen het (drie) en dit lyk of hy van krag tot krag gaan, maar daar is steeds bitter min verskil tussen die voorste jaers.

Daar is, vandag ingesluit, nog ses renne oor. As jy dink die manne het al alles uitgehaal, hou hulle dop.

Van nou af tel elke punt.

  • Binder se broer, Darryn, spring in die 11de plek in die Moto3-ren weg.
  • Wegspring: 12:55, DStv 210
Meer oor:  Frankryk  |  Motogp  |  Brad Binder
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.