
Seniesa Estrada net nadat sy Miranda Adkins uitgelaan het. Foto: Getty Images
Kritiek stroom steeds in nadat Seniesa Estrada van Amerika verlede week die vinnigste uitklophou nóg in vroue-boks geplant het.
Dit het die 28-jarige Estrada Vrydag slegs sewe sekondes geneem om haar landgenoot Miranda Adkins uit te slaan.
Die geveg in die ligvlieggewig-afdeling het in die Fantasy Springs-casino in Indio, Kalifornië, plaasgevind.
Russ Anber, wat deesdae een van die mees hoogaangeskrewe swaargewigte, Oleksandr Usyk, se afrigters is, het die geveg erg gekritiseer.
“Ek het al baie k*k gesien, maar hierdie geveg was seker die walglikste nóg. Die een wat daardie hulpelose vrou die kryt ingestuur het, moet vir aanranding met voorbedagte rade aangekla word,” het Abner volgens die webwerf www.givemesport.com gesê.
Enzo Maccarinelli, ’n voormalige juniorswaargewigkampioen van die Wêreldboksorganisasie, het die kragmeting as “ongelyk” beskryf.
Estrada was voor die kragmeting onoorwonne ná 18 gevegte in die geldkryt.
Adkins is 42 jaar oud en boks maar slegs vir twee jaar. Voor Vrydag se skokkende tweestryd was sy onoorwonne ná vier gevegte.
Daar moet ook gemeld word dat haar vorige teenstanders ook beginners soos sy was.
Estrada het Adkins geprys omdat “sy die enigste een was wat teen my wou boks”.
– Sportredaksie