Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Kwotas speel nie rol in WB-span
Die Australiër Norma Plummer het die Wêreldbeker-toernooi as ’n speler én afrigter gewen.Foto: Getty Images

Vir die eerste keer in jare was daar geen kwotavereistes toe ’n nasionale netbalgroep gekies is nie.

Norma Plummer, Suid-Afrika se ervare Australiese afrigter, het 12 spelers gekies – en gekry – wie sy meen die beste is.

Die Proteas wat Suid-Afrika in Julie in Liverpool, Engeland, in die Wêreldbeker-toernooi gaan verteenwoordig is Woensdag in Sandton bekend gemaak.

Daar is net vier spelers van kleur in die groep. Hulle is die ervare kaptein, Bongiwe Msomi, Phumza Maweni, Zanele Vimbela en Khanyisa Chawane.

Dit is ’n ervare span met tussen hulle altesame 623 toetse op hul kerfstok.

Suid-Afrika is vyfde op die wêreldranglys en mik na net sy tweede medalje sedert 1995.

Izette Griesel, wat verlede jaar laas internasionale netbal gespeel het, is in die Proteas se Wêreldbeker-groep ingesluit.Foto: Getty Images

Sewe Proteas wat in 2015 in Sydney in aksie was, is weer gekies. Hulle is Msomi, Maweni, Lenize Potgieter, Maryka Holtzhausen, Izette Griesel, Erin Burger en Karla Pretorius.

Die 26-jarige Griesel is die enigste verrassing in die groep.

Dié senterbaanspeler het weens ’n enkelbesering in April 2018 laas internasionale netbal gespeel.

Dié Pretorianer vervang Romé Dreyer, wat aan September 2018 se Vierhoekige reeks (teen Australië, Nieu-Seeland en Engeland) en die Diamantliga-reeks deelgeneem het.

Dorette Badenhorst, ’n SA hulpafrigter, sê Dreyer kan haarself ongelukkig ag.

“Izette is meer ervare en gee vir ons ’n ander tipe wedstrydplan, want sy is kragtig en sterk en het groot fisieke vermoë. Sy word nie sommer rondgestamp nie,” sê Badenhorst.

Sy het ons al tevore in krisisoomblikke gered. Sy is sterk op die aanval én verdediging en draai baie balle.
Dorette Badenhorst

“Wat ook in haar guns tel, is haar ongelooflike selfvertroue. Sy het ons al tevore in krisisoomblikke gered. Sy is sterk op die aanval én verdediging en draai baie balle,” sê Badenhorst.

Nog ’n speler wat ’n WB-plek misgeloop het, is Precious Mthembu, wat nog nie 100% is nie ná ’n kniebesering.

Badenhorst sê Suid-Afrika se voorste spelers het in hul laaste paar internasionale wedstryde gewys hulle kan goed vaar.

“Jy verander nie sommer aan ’n wenkombinasie nie.”

Cecilia Molokwane, president van Netbal Suid-Afrika (NSA), sê sy is ingenome met die span wat Plummer gekies het.

“Ek het volle vertroue in die afrigter, haar tegniese span en al die spelers. Ek wens hulle die beste toe,” sê Molokwane.

“As ’n federasie het ons seker gemaak hulle kry alles wat hulle nodig het om goed te vaar. Ek het altyd gesê die span se mandaat is baie duidelik en eenvoudig: Ons het aan die einde van die toernooi ’n medalje nodig.”

Woensdag by die WB-spanaankondiging in Sandton was die Proteas Renske Stoltz en Erin Burger, Cecilia Molokwane, die NSA-president, die hulpafrigter Dorette Badenhorst en die Protea Zanele Vimbela. Foto: Reg Caldecott

Molokwane het bevestig daar sal geen kwotateikens op die baan geld nie.

Badenhorst sê die spelers wat in Suid-Afrika is, sal steeds saamoefen.

“Enigeen moet gereed wees, sou sy opgeroep word (weens ’n besering).”

Burger, die mees ervare Protea met 115 toetse, sal die eerste Suid-Afrikaner word om in vier WB-toernooie te speel.

Die Proteas sal in Groep C meeding met Trinidad en Tobago, Fidji en Jamaika. Die Trinidad-vroue is hul eerste teenstander op 12 Julie.

Australië is die verdedigende kampioen.

Ander Afrika-lande wat gekwalifiseer het, is Malawi, Uganda en Zimbabwe.

* Die Proteas sal in Julie ter voorbereiding vir die WB-toernooi twee toetse teen Wallis in Cardiff speel.

(Suid-Afrika het in 1967 derde geëindig in die WB-toernooi in Perth.)

SA se WB-groep is:

Lenize Potgieter (NG), Ine-Marí Venter (NG), Maryka Holtzhausen (VS), Renske Stoltz (NG), Erin Burger (NG), Izette Griesel (NG), Khanyisa Chawane (VS), Bongiwe Msomi (KZN, k), Shadine van der Merwe (NG), Karla Pretorius (VS, ok), Phumza Maweni (WK), Zanele Vimbela (SG). Afrigter: Norma Plummer. Hulpafrigters: Nicole Cusack en Dorette Badenhorst.

Nie-reisende reserwes: Romé Dreyer, Marlize de Bruin, Tshina Mdau, Jessica Khomo, Sigrid Burger, Precious Mthembu, Monique Reyneke, Jeanette Vermeulen.


Meer oor:  Norma Plummer  |  Johannesburg  |  Proteas  |  Afrigter  |  Netbal  |  Wereldbekergroep
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.