Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
KYK: Podium-protes oor ‘verneuker’
Mack Horton, silwermedalje in die 400 m-vryslag by die Wêreldbyeenkoms in Suid-Korea, weier om langs die Chinees en gouemedaljewenner, Sun Yang, op die podium te staan. Foto: AP

Die Australiese swemmer Mack Horton het applous van sy mede-deelnemers gekry nadat hy Sondag geweier het om langs die Chinees Sun Yang op die podium te staan tydens die medalje-oorhandigingseremonie by die Wêreldbyeenkoms in Gwangjoe, Suid-Korea.

Sun, wat voorheen ’n skorsing uitgedien het vir die gebruik van ’n verbode stimulant, is voor die eindronde van die 400 m-vryslag by die Olimpiese Spele in 2016 as ’n “opkikker-verneuker” deur Horton gebrandmerk

Sun het vroeër vanjaar ook reëls oor opkikkers oortree, maar is deur ’n tugkomitee van die internasionale swembeheerliggaam (Fina) toestemming gegee om in Gwangjoe deel te neem.

Die Wêreldagentskap teen verbode middels (Wada) wil egter dié besluit by die Internasionale Hof vir Sportarbitrasie (CAS) beveg, wat Sun se loopbaan ’n jaar voor die Spele in Tokio in die weegskaal laat.

Nadat Sun vir Horton Sondag om die goue medalje in Gwangjoe geklop het, het hy geweier om langs die Chinees en die Italiaanse bronsmedaljewenner, Gabriele Detti, op die podium te staan.

Hy het agterna ook geweier om Sun se hand te skud of saam met hom vir foto’s te poseer.

Terwyl dié optrede in sekere mediakringe kritiek ontlok en Chinese swemliefhebbers woedend gelaat het, sê die Amerikaanse borsslag-swemmer Lily King dat Horton se aksies deur sy mede-swemmers ondersteun word.

“Ons het nogal staan en wag vir die medaljeoorhandiging-seremonie om te sien wat gaan gebeur,” sê King.

“Dit (Horton se optrede) was fantasties. Toe ons later by die eetsaal instap was hy (Horton) net agter ons en het almal opgestaan en vir hom applous gegee. Dit was goed om te sien dat atlete verenig was in hul siening en hom ondersteun het.”

Mack Horton het lof van sy mede-swemmers vir sy protesoptrede in Gwangjoe gekry. Foto: Getty Images

King sê dit vererg swemmers dat die gebruik van verbode middels steeds ’n skadu werp oor hul sport en dat swemmers vir mekaar sal begin opstaan indien die beheerliggaam hulle (eerlike deelnemers) nie behoorlike beskerming bied teen oortreders nie.”

Nog ’n Australiese swemmer, Mitch Larkin, sê sy landgenoot se optrede was dapper en dat hy “nie alleen staan nie”.

Die Amerikaanse swemmer Matt Grevers sê hoewel Horton deur Fina gestraf kan word, was die Aussie bewus van die moontlike gevolge.

Hy voel ook Horton se protesoptrede was nie om Sun persoonlik te beledig nie, maar eerder om ’n boodskap aan swemowerhede te stuur.

Luidens ’n berig op die bbc.co.uk het Sun gesê hy kan Horton se optrede hanteer, maar dat dit jammer is dat dié Australiër oneerebiedig teenoor China was.

– Reuters, Sportredaksie

Meer oor:  Swem  |  Mack Horton  |  Sun Yang
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.