Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
KYK: Michael se klong toets nuwe Ferrari

’n Volsirkel-oomblik.

Só het die BBC-joernalis Andrew Benson Dinsdag geswymel nadat die 20-jarige Mick Schumacher in Bahrein die eerste Schumacher in meer as 12 jaar geword het wat agter die stuurwiel van ’n Ferrari-F1-motor ingeskuif het.

In die skadu van grootsheid . . . Mick Schumacher, die seun van die F1-legende Michael, het Dinsdag sy debuut as toetsdrywer vir Ferrari gemaak. Foto: AP

Die jong Schumacher het Ferrari se SF90-motor in ’n toetssessie in dié woestynstaat om die renbaan bestuur. Die jongeling, wat verlede jaar as Europese F3-kampioen gekroon is, het die naweek in dié einste plek sy buiging in die Formule Twee-reeks gemaak.

Dit was Schumacher se eerste ervaring in ’n moderne F1-motor. Hy het wel voor die Belgiese Grand Prix van 2017 in die Benetton waarmee sy pa die 1994-wêreldtitel gewen het, om die Spa-Francorchamps-baan gejaag.Die laaste keer dat Schumacher sr. in F1 gejaag het, was Desember 2006, toe hy sy loopbaan by Mercedes afgesluit het.

Ferrari se SF90 sal Woensdag oorgeneem word deur die viermalige wêreldkampioen Sebastian Vettel, terwyl Schumacher jr. toetse doen vir Alfa Romeo, wat ook Ferrari-enjins gebruik.

Vettel, ’n Duitse landgenoot van die Schumachers, het gesê die jongeling verdien die groot geleentheid wat hom in Bahrein te beurt geval het.

“Vanselfsprekend, met sy naam en die feit dat hy die seun van Michael is, is daar sekere verbintenisse en verwagtinge,” het Vettel verlede week volgens Reuters gesê.

“Die wyse waarop hy die laaste paar jaar verbeter het – hy verdien waar hy nou is. Nou moet ons hom tyd en vrede gee om sy werk te doen.”

Ross Brawn, wat beskou word as die meesterbrein agter Schumacher sr. se sewe wêreldtitels (waarvan vyf tussen 2000 en 2004 by Ferrari gewen is) was ewe opgewonde oor Mick se toekoms.

“Dis baie opwindend. So baie kere kyk ek na Mick en sien ek Michael baie sterk in hom deurkom,” het hy gesê.

“Dit sal wonderlik wees (as hy in sy pa se voetspore volg), maar daar is enorme druk op die seun. Ek hoop mense hou dinge in perspektief en het nie onrealistiese verwagtinge van hom nie.”

Schumacher is verlede week in Bahrein tydens ’n perskonferensie uitgevra oor die lewe as Michael se seun. Mick was 14 en het langs sy pa geski toe Michael in Desember ’n fratsongeluk gehad het en die sluier dig oor sy gesondheid getrek is. Dis steeds nie duidelik hoe dit nou met hom gaan nie.

Terwyl Mick in Bahrein weer nie daaroor uitgewei het nie, het hy openhartig gepraat oor die ekstra druk wat dit op hom as renjaer plaas om so ’n bekende pa te hê.

“Dis deel van my. Ek is die seun van die pa en ek is bly daaroor,” het hy volgens BBC Sport gesê. “Wat hy gedoen het, is die beste ooit in Formule Een. Dis iets waarna ek opkyk.”

* Daar was Dinsdag in Bahrein nóg ’n bekende gesig betrokke by die toetssessies. Fernando Alonso, wat verlede jaar uit Formule Een getree het, het in ’n McLaren geklim om Pirelli se bande te help toets. – Sportredaksie

Meer oor:  F1  |  Formule Een  |  Mick Schumacher
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.