Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
KYK: Schumi jr. min gepla hieroor

Mick Schumacher sê dit pla hom nie dat mense hom met sy pa en sewemalige Formule Een-wêreldkampioen, Michael Schumacher, vergelyk nie.

Mick Schumacher sê sy pa is sy held. Foto: Getty Images

Mick (19) pak vanjaar sy eerste seisoen in Formule Twee, met die aksie wat van 29 tot 31 Maart in Bahrein begin.

“Dit was nog nooit vir my ’n probleem om met my pa vergelyk te word nie,” sê hy.

“Om vergelyk te word met die beste renjaer in die geskiedenis van F1 is ’n doelwit wat jy wíl bereik, en om hom vir ’n pa en as my held te hê is baie spesiaal.”

Mick ding vanjaar mee vir die Prema-span vir wie die nuwe Ferrari-renjaer Charles Leclerc in 2017 gejaag het toe hy die F2-titel in sy debuutseisoen verower het.

Michael is nog nie in die openbaar gesien sedert hy vyf jaar gelede breinbeserings opgedoen het in ’n ski-ongeluk in die Franse Alpe nie.

Hy voer nou ’n afgesonderde bestaan in sy gesinswoning aan die oewer van die Genèvemeer in Gland, Switserland, saam met sy vrou, Corinna, en kinders, wat alles moontlik doen om sy privaatheid te beskerm.

“Ek voel geërd om met hom vergelyk te word, want ek hou aan leer en probeer deurlopend verbeter,” sê Mick.

Ferrari het die jong Duitser reeds by sy renjaer-akademie betrek en hy sal volgens ingeligtes die seisoen in twee toetslopies vir die Italiaanse span bestuur.

Hy sê in die video-onderhoud, wat deur die Prema-span en sy bestuurspan uitgereik is, dat dit “baie positief” is om deel te wees van Ferrari se program vir jong renjaers.

“Ek kan so baie by Ferrari leer, want hulle het ongelooflike ervaring en ek wil saam met hulle werk om soveel as moontlik te bereik.

“My eerste indruk van Ferrari was uit die hart uit, hulle het my verwelkom in ’n familie wat nog altyd deel was van my gesin.”

Hy meen sy grootste uitdaging die seisoen in F2 is om gewoond te raak aan die Pirelli-bande. Dit is soortgelyk aan dié wat in F1 gebruik word en dit is berug daarvoor dat dit probleme skep vir renjaers uit ander klasse wat ander bande gebruik.

Jaers moet baie versigtig met dié bande bestuur omdat dit geneig is om te oorverhit, wat nie juis die geval is met ander bande nie.

Mick, die kampioen in die Europese F3-reeks verlede jaar, sê: “Die trappie (hoër) self is nie so groot nie. Ons (F2) is baie vinniger in terme van tye. Dit gaan meer daaroor om die bande te verstaan. Dit is die moeilikste deel.”

– Sportredaksie


Meer oor:  F1  |  Mick Schumacher  |  Motorsport  |  Michael Schumacher
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.