Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
‘Rassistiese’ Redskins-naam en logo gepos

Amerikaanse voetbal se Washington Redskins het bevestig hy doen weg met sy naam en logo wat hy sedert 1933 gebruik, maar lank reeds deur Amerikaanse Indiaan-drukgroepe as rassisties gekritiseer word.

’n Washington Redskins-aanhanger wys sy kleure in ’n wedstryd teen die Green Bay Packers in Desember. Foto: Getty Images

Dié NFL-span se eienaar, Dan Snyder, wat die franchise in 1999 aangeskaf het, het voorheen gesê hy sal nooit aan die naam torring nie. Hy het egter sy deuntjie verander nadat FedEx Corp (FDX.N), wat die naamregte besit van die span se stadion in Landover, Maryland, die klub gemaan het om ’n nuwe handelsnaam te kies.

Die span het op 3 Julie gesê hy doen ’n deeglike oorsig van die klub se naam.

“Ons kondig vandag (Maandag) aan dat ons gaan wegdoen met die Redskins se naam en logo sodra die oorsig afgehandel is,” sê die span in ’n verklaring.

Daar is nie aangedui wanneer die oorsigproses voltooi sal word nie.

Die druk het geweldig toegeneem vir die verandering van die span se naam – wat wyd beskou word as rassisties teenoor Amerikaanse Indiane – sedert die ontstaan van die Black Lives Matter-beweging. Dié beweging spreek hom uit teen rassisme en polisiegeweld en is aangevuur deur die dood in polisieaanhouding van die ongewapende swart man George Floyd op 25 Mei in Minneapolis.

’n Groep van meer as 80 beleggingsfirmas, wat gesamentlik meer as $620 miljard se bates bestuur, het in Junie ’n beroep gedoen op FedEx, Nike Inc (NKE.N) en PepsiCo Inc (PEP.O) om hul vennootskap met die span te skrap as hy nie sy naam verander nie.

PepsiCo en Nike het albei FedEx se leiding gevolg en gesê hulle verwelkom die beroep op ’n oorsig van die span se naam.

Kayleigh McEnany, die president se woordvoerder, sê sy het nog nie die span se besluit met Donald Trump bespreek nie, maar sy onlangse kommentaar dat die naam vir “krag” staan, beaam.

“Sy twiet verlede week het dit duidelik gemaak dat hierdie spanne hulle name kies vanuit ’n oogpunt van krag, nie swakheid nie,” sê McEnany.

“En hy sê hy glo dat die Amerikaanse Indiaan-gemeenskap baie kwaad sal wees hieroor (die naamsverandering) en hy beskik oor peilings wat dit bewys.”

Sy het ’n destydse Washington Post-peiling aangehaal wat aandui dat 90% van Amerikaanse Indiane die naam nie as neerhalend beskou nie.

Die Nasionale Kongres van Amerikaanse Indiane het Maandag in ’n verklaring gesê: “Ons loof die Washington NFL-span dat hy ontslae geraak het van ’n naam wat oneerbiedig, neerhalend, en stereotiperend teenoor inheemse mense was, en ons doen ’n beroep op alle sportspanne en korporatiewe besighede om weg te doen met alle karikature van Amerikaanse Indiane wat hul vir hul gelukbringers gebruik.”

Die span wat die Washington Redskins sou word is in 1932 as die Boston Braves gestig. Die naam is die volgende jaar na die Redskins verander en het in 1937 na Washington verhuis.

Baie Amerikaanse beroeps- en kollegespanne het byname met Amerikaanse Indiaanse temas.

Snyder en Ron Rivera, die span se nuwe hoofafrigter, “werk nou saam om ’n nuwe naam en logo te ontwerp wat die trotse, tradisieryke geskiedenis van die franchise gestand doen en ons borge, ondersteuners en die gemeenskap vir die volgende 100 jaar sal inspireer,” sê die span in ’n verklaring.

Die span het drie Super Bowl-titels gewen en is een van die NFL se markies-franchises. Forbes het die Washington-span in September as die NFL se sewende waardevolste franchise teen $3,4 miljard aangewys.

’n Gedenkbeeld van die span se stigter, George Preston Marshall, wat geveg het teen die rasse-integrasie van die NFL, is in Junie by die RFK-stadion verwyder, die span se voormalige tuiste in Washington.

– Reuters

Meer oor:  George Floyd  |  Dan Snyder  |  Amerikaanse Voetbal  |  Black Lives Matter  |  Washington Redskins  |  Nfl  |  Blm  |  Ron Rivera
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.