Die gemengde gevegskunstenaar en judoka Ronda Rousey het byna ’n vinger verloor in ’n grusame ongeluk op die stel van ’n Amerikaanse televisiedrama waarin sy ’n gasrol vertolk.
CNN berig die voormalige UFC-ster, wat deesdae in rofstoei se WWE meeding, het gewys hoe taai sy is toe sy voortgaan met die verfilming van die derde seisoen van die dramareeks 9-1-1 nadat sy haar hand in ’n deur toegeslaan het.
Rousey (32) het die voorval as ’n “fratsongeluk” beskryf. Sy sê sy het aanvanklik gedink dit is nie te ernstig nie en die toneel voltooi voordat sy na haar hand gekyk het.
Rousey het die regisseur van die voorval verwittig eers nadat sy op die stel behandel is. Hy het dadelik ’n ambulans ontbied en Rousey, met die middelvinger op haar linkerhand byna in twee stukke, is na ’n hospitaal in San Diego geneem.
Sy het ’n operasie ondergaan waar dokters die been en sening met plate en skroewe aan haar vinger vasgeheg het.
Rousey sê nie wanneer die ongeluk gebeur het nie, maar sy het die volgende dag teruggekeer werk toe.
“Ek besef dit klink laf, maar ek is gewoond aan lewende gehore en wys net pyn wanneer ek veronderstel is,” sê sy op Instagram.
“Ek het ná die operasie die volgende dag teruggekeer na die stel en my tonele voltooi voordat ek huis toe is om te herstel.
“Moderne medici verstom my; ek het in drie dae reeds 50% beweging in my vinger herwin.”

Ronda Rousey is in Julie 2018 in die UFC se heldesaal ingehuldig. Foto: Getty Images
Rousey was die koningin van die UFC voordat sy agtereenvolgende nederlae teen Holly Holm en Amanda Nunes in 2015 en 2016 gely het.
Sy het egter nie haar mededingende instinkte verloor nie en haar op rofstoei toegespits.
Rousey is onlangs in die UFC se heldesaal ingehuldig, die eerste vrouevegter om die eer te ontvang.
– Sportredaksie