Michael Schumacher se seun Mick (19) is ’n tree nader daaraan om sy pa in Formule Een te volg nadat die Prema-span aangekondig het hy sal volgende jaar vir hulle in Formule Twee meeding.

Kenners meen Mick Schumacher het ’n blink toekoms in F1. Foto: Getty Images
F2 is ’n voedingsreeks vir F1 en vanjaar se topdrie renjaers – George Russell, Lando Norris en Alexander Albon – het almal sitplekke losgeslaan by grand prix-spanne vir 2019.
Mick Schumacher is in Oktober as Formule Drie se nuwe Europese kampioen gekroon met agt seges, terwyl hy 14 keer op die podium gestaan het. Sy eerste F3-titel beteken hy het gekwalifiseer vir die FIA se superlisensie, wat ’n vereiste is vir die sprong na F1.
“Hy is ’n ontsettend talentvolle en toegewyde renjaer. Dit is ’n plesier om saam met hom te werk en ons kan nie wag om hierdie avontuur saam te begin nie,” sê Rene Rosin, hoof van die Mercedes-aangedrewe span.
“Dit is nie ’n maklike reeks nie weens die leerkurwe vir die groentjies, veral met die inleiding na ’n nuwe renmotor, maar ons dink Mick beskik oor die volwassenheid en vaardighede om dit te kan maak.”
Die jong Duitser sê die skuif is “die logiese trap” op die leer en sal hom help om sy vaardighede te verbeter en verdere ondervinding op te doen.
“Ek kan nie die Prema-familie genoeg bedank vir wat ons as ’n span saam bereik het nie, veral vanjaar: Hoe ons voortgegaan het om deurlopend saam te ontwikkel,” sê hy.
Schumacher jr. sal later vandeesweek saam met Prema in Abu Dhabi toets.
Toto Wolff, die invloedryke hoof van die F1-kampioenspan, Mercedes, reken dié jongeling het ’n groot toekoms.
“Hy het homself reeds bewys en kan ’n grote in die sport word,” het hy in Oktober gesê.
Lewis Hamilton, Mercedes se vyfmalige wêreldkampioen, glo ook Schumacher sal die boonste sport bereik.
“Daar sal weer 100% ’n Schumacher in F1 wees, deels oor die naam, maar ook omdat hy uitstekend vaar,” sê hy.
Michael Schumacher het sewe F1-wêreldtitels beklink, ’n rekord, wat vyf in ’n ry saam met Ferrari insluit. Hy hou boonop met 91 oorwinnings die rekord vir die meeste wedrenseges.
Die 49-jarige motorsportlegende, wie se privaatheid kwaai beskerm word, is nog nie in die publiek gewaar sedert ’n ski-ongeluk in Frankryk in Desember 2013 nie.
– Reuters