Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
KYK: Toertjie-perderuiter laat spat rekord

’n Jong perderuiter het in George nie-amptelik die wêreldrekord verbeter vir die hoogste sprong terwyl die ruiter op twee perde staan (bekend as Roman riding).

Die 21-jarige Arian Ourtaev se sprong was 1,10 m teenoor die wêreldrekord van 1,08 m, wat in 2015 deur Ben Atkinson in Leeds in Engeland op die stel van Officially Amazing opgestel is, volgens Guinness World Records.

Arian, ’n toertjie-perderuiter, vertel by navraag hy het twee weke gelede op hul familieplaas in George geoefen toe hy die prestasie met twee van sy perde, Rosie en Cinders, behaal het.

“Dit was nie vir ’n amptelike rekord of so iets nie,” sê hy. “Ek het net gedink ek gaan probeer en kyk wat gebeur.”

Arian Ourtaev toe hy nie-amptelik die wêreldrekord verbeter het vir die hoogste sprong terwyl die ruiter op twee perde staan (bekend as Roman riding).

Volgens hom was hy aangenaam verras toe hy sien dat sy poging van 1,10 m beter as die wêreldrekord is.

“Ek sal later weer ’n poging aanwend om ’n amptelike rekord te behaal.”

Arian het ’n video van sy prestasie op sy Facebookblad gedeel waar talle mense hom daarmee gelukgewens het.

Arian werk vir sy gesin se maatskappy, Film Equus, wat onder meer perde afrig en ook vir rolprentstelle verskaf. Sy pa, Elbrus Ourtaev, het in Ossetië, ’n Oosblokland, grootgeword en in jigitovka uitgeblink, ’n rystyl wat uit antieke tye dateer en later ’n kunsvorm in die vermaaklikheidsbedryf geword het.

Volgens die maatskappy se webtuiste was Elbrus 15 jaar oud toe hy hom by die Moskou-sirkusskool aangesluit het. Hy het verskeie jare by die Moskou-sirkus gewerk. Later het hy hom by ’n perde-teater aangesluit wat oral in Europa opgetree het.

Volgens Arian is dit ’n interessante bedryf. “Ons het al plaaslik en oorsee gewerk. Ons spesialiseer in onder meer Middeleeuse toertjies waarin swaarde en skilde gebruik word.

“Ons perde is byvoorbeeld ook gebruik in die Disney-rolprent Black Beauty van 2020, waarin die aktrise Kate Winslet se stem vir die perd Black Beauty gebruik is,” sê hy.

Die maatskappy het ook al perde voorsien vir Bollywood-films in Indië, rolprente soos King Solomon’s Mines, Scorpion King – Book of Souls en vir televisiereekse soos Black Sails en die minireeks Troy: Fall of City, wat in Kaapstad verfilm is.

Meer oor:  Wêreldrekord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.