’n 84-jarige aanhanger van die Ole Miss Rebels-basketbalspan het die toeskouers laat juig van opwinding toe sy met ’n sethou oor 94 voet (28,6 meter) slaag en met ’n splinternuwe motor beloon word.
Mary Ann Wakefield het uitstekende balans en styl getoon toe sy die gholfhou suksesvol uitvoer in ’n rustyd-kompetisie om ’n 2020 Nissan Altima te wen.
“Sê jou wat, dit lyk goed, dit lyk baie goed,” sê die aanbieder terwyl die bal oor die baan rol. Skielik verdwyn dit in ’n gatjie wat strategies geplaas is op ’n banier om die motor te adverteer.
Wakefield lyk sommer verbysterd oor wat gebeur het en druk Tony, gelukbringer van die Ole Miss Rebels, voordat sy opgewek vir die toeskouers waai wat haar luidkeels toejuig.
GolfChannel.com berig Wakefield het beter vertoon as die Rebels, wat die Mississippi-universiteit verteenwoordig. Alabama het die span met ’n telling van 103-78 verslaan.
Ole Miss se direkteur van sport, Keith Carter, het Wakefield op Twitter gelukgewens.
“Geluk, Mary Ann! Wat ’n ongelooflike oomblik! Geniet jou nuwe motor!” sê hy in sy boodskap.
Beeldmateriaal van Wakefield se sethou versprei soos ’n veldbrand en is ’n treffer op sosiale media.
– Sportredaksie