Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
KYK: Vrou tem brander van 22,4 meter

Ontmoet die vrou wat die manne in die golwe ore aansit.

Maya Gabeira is bekend daarvoor dat sy grense verskuif. Foto: Instagram

Dit is amptelik: Die Brasiliaanse branderplankryer Maya Gabeira het haar eie wêreldrekord verbeter vir die grootste brander wat tot nog toe deur ’n vrou gery is.

Stuff berig haar monster-golf van 73,5 voet (22,4 meter) by Nazaré se beroemde Praia do Norte-strand was nie net die grootste ooit deur ’n vrou nie, maar ook groter as enige poging deur ’n man vanjaar.

Gabeira (33) se prestasie in Februarie op dieselfde strand in Portugal waar sy in 2013 amper verdrink het, het die kroon gespan op ’n ongelooflike loopbaan.

“As daar een ding is wat ek nooit van hierdie golf sal vergeet nie, is dit die geraas wat dit gemaak het toe dit agter my breek. Dit was vreesaanjaend,” sê Gabeira.

Haar reuse-brander was een van verskeie merkwaardige pogings daardie dag, maar deeglike ontledings deur spanne van die Universiteit van Suid-Kalifornië, WaveCo-wetenskaplikes en die Scripps Instituut vir Seewetenskap, het Gabeira se golf as die grootste gemeet. Sy het daarmee die rekord verbeter wat sy in Januarie 2018 gestel het.

Kai Lenny van Hawaii het op dieselfde dag ’n brander van 70 voet (21,5 meter) gery. Die mansrekord is 80 voet (24,3 meter).

“Dat ’n vrou haarself in ’n oorwegend mansport in hierdie posisie bevind, is ’n droom wat bewaarheid word,” sê Gabeira.

“Ek dink dit sou jare gelede ondenkbaar wees, maar diep in my binneste het ek lank reeds hiervan gedroom.”

Dit is ’n merkwaardige ommekeer indien ’n mens in gedagte hou dat sy sewe jaar gelede byna haar lewe in daardie branders verloor het.

Gabeira het haar been gebreek en ophou asemhaal voordat sy op pad na die hospitaal bygebring is. Sy het boonop drie operasies aan haar rug ondergaan.

Gabeira het die sport in haar vroeë-tienerjare in Rio de Janeiro begin beoefen, maar het besluit om ’n loopbaan van branderplankry te maak terwyl sy as 17-jarige in Australië gewoon het.

Sy het haar vinnig onderskei as die wêreld se voorste vrou in groot branders en het al verskeie Big Wave-toekennings verower.

– Sportredaksie

Meer oor:  Guinnes  |  Branderplankry  |  Branderplankryer  |  Maya Gabeira
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.