Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
KYK: Zim-vrou deel van Lewis se wenspan

’n Zimbabwiese ingenieur, wat vir die Mercedes-AMG-Petronas-motorsportspan werk, het Sondag in Lewis Hamilton se wenvreugde gedeel.

Stephanie Travers het die eerste swart vrou geword om op ’n Formule Een-podium te staan en het saam met die Britse renjaer vonkelwyn gedrink.

Lewis Hamilton en Stephanie Travers spuit die voggies. Foto: AP
Lewis Hamilton drink Sondag Franse sjampanje terwyl Stephanie Travers in die agtergrond haar eie voggies spuit. Foto: Getty Images

Hamilton, wat vir Mercedes deelneem, het die Stiermarkse F1-Grand Prix in Spielberg, Oostenryk, gewen.

Travers werk as ’n vloeistof-ingenieur. Gedurende ’n F1-naweek ontleed sy Petronas se enjinolie, ratkasolie en die Primax-brandstof om seker te maak die Mercedes-renmotors loop seepglad.

Dié 25-jarige ingenieur woon sedert 2004 in Brittanje en is verlede jaar uit 7 000 aansoekers gekies om haar by die wêreldkampioenspan aan te sluit, berig engineeringnews.co.za.

Travers het by ’n chemiese aanleg gewerk toe sy die aansoekvorm sien vir die pos van vloeistof-ingenieur.

Stephanie Travers vier fees met die wennerstrofee. Foto: Twitter | Steve Vickers

“Daar was 7 000 aansoekers en daar was ’n uitmergelende keuringproses oor vyf rondes,” het sy in Julie 2019 aan marieclaire.co.uk gesê.

“Ek was in die topdrie, wat behels het ’n wedren teen tyd deur Kuala Lumpur se stadskern om die uitvoerende hoof van Petronas te vind en een laaste onderhoud met hom te hê – toe kry ek die werk!”

Nou reis sy die wêreld vol saam met die F1-span.

Die Spaanse Grand Prix vind Sondag plaas.

Lewis Hamilton sit ná sy oorwinning op die podium. Foto: Getty Images

Hamilton se Finse spanmaat, Valtteri Bottas, is met 43 punte die voorloper op die puntelys. Hamilton het 37 punte.

Bottas, wat die openingsren van die seisoen voorverlede week in Spielberg gewen het, het Sondag tweede ná Hamilton oor die eindstreep gejaag, met Max Verstappen (Red Bull) in die derde plek.

Mercedes is los voor op die puntelys vir vervaardigers. – Sportredaksie

Meer oor:  F1  |  Lewis Hamilton  |  Formule Een  |  Stephanie Travers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.