Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Laat ons deure open, pleit federasies
Tennistoernooie mag ingevolge vlak 3 se regulasies plaasvind – maar nie so gou dat dit onmiddellike verligting aan die sport se beamptes sal bied nie. Foto: Gallo Images

Meer as 70 000 mense se vermoë om geld te maak word belemmer deur die remskoen wat die staat van inperking vir Suid-Afrikaanse sport is – en dis net in gholf, gimnastiek, swem en tennis.

Met sowat 80 sportfederasies in die land – en nie een van die “Groot Drie”-sportsoorte (rugby, krieket en sokker) by bogenoemde syfer ingereken nie – is dit duidelik dat honderdduisende mense deur die beperking op sport geraak word.

Die nasionale federasies van gimnastiek, swem, gholf, roei, branderplankry, kanovaart, fietsry, krieket en tennis het Vrydag ’n gesamentlike verklaring uitgereik, waarin hulle uiteensit waarom sport se deure nie langer gesluit kan bly nie.

Die minister van sport, Nathi Mthethwa, sal Saterdagoggend meer duidelikheid gee oor hoe vlak 3 van die nasionale inperking sport gaan beïnvloed nadat die nasionale koronavirus-bevelsraad (NCCC) se gepubliseerde regulasies Donderdag min tot geen antwoorde verskaf het nie.

Sportterreine en swembaddens, sê die NCCC, sal net geopen word sodat beroepsatlete kan oefen asook vir nie-kontak-wedstryde. Die twee paragrafies waarin dié inligting vervat is, het die sportbedryf met meer vrae as antwoorde gelaat.

Baie sportklubs, afrigters, werkers en semi-professionele atlete word deur finansiële ondergang in die gesig gestaar as sport op alle vlakke verbied bly.

Daarom dat genoemde federasies Vrydag wou seker maak dat die erns van hul situasie voor Saterdag se aankondiging oral tuisgebring word.

As alle sportkodes nie heropen nie, lui die verklaring, sal ’n reeds mank sportbedryf net verder seerkry.

“Alle sportkodes bied werkgeleenthede op alle vlakke, van georganiseerde rekreasie tot by beroepsport. Baie sportklubs, afrigters, werkers en semi-professionele atlete word deur finansiële ondergang in die gesig gestaar as sport op alle vlakke verbied bly,” sê die federasies.

Volgens die verklaring bied gholf net by gholfklubs werkgeleenthede aan sowat 40 000 mense, en is sowat 22 000 mense in die swembedryf werksaam.

Gimnastiek bied volle of deeltydse werk aan 3 500 mense en tennis aan 6 500.

Die nege federasies wat die pleidooi gerig het, sê hulle het almal reeds protokol en beleid opgestel om die veiligheid en gesondheid van almal te verseker wanneer hul deure weer oopgaan. Al nege bestuur nie-kontaksportkodes waarin sosiale afstand gehandhaaf kan word en higiëniese praktyke afgedwing kan word.

Anne Vermaak, die uitvoerende hoof van Gimnastiek Suid-Afrika (SAGF), sê die land se gimnastiekklubs moet “dringend hul deure oopmaak om finansieel te kan oorleef”.

Gimnastiek het vroeër vandeesmaand ’n verligtingsfonds gestig nadat hy gevind het dat soveel as twee-derdes van die land se gimnastiekklubs (238 uit 351) sonder finansiële bystand weens die inperking hul deure sal moet sluit.

Donny Jurgens, die waarnemende president van die SAGF, het aan Netwerk24 gesê die publiek se reaksie op die verligtingsfonds was teleurstellend, maar die SAGF kon darem geld na hul provinsies kanaliseer om effense verligting te bied.

Maar die beste oplossing is natuurlik om weer ons klubs oop te maak, sodat hulle weer op eie stoom kan aangaan. Finansiële hulp neem jou net so ver.
Donny Jurgens

“Ons het reeds aan die departement van sport en die Nasionale Loterykomitee geskryf om te hoor of ons van die geld wat bedoel is vir byeenkomste op ander maniere mag aanwend,” het hy gesê. “Maar die beste oplossing is natuurlik om weer ons klubs oop te maak, sodat hulle weer op eie stoom kan aangaan. Finansiële hulp neem jou net so ver.”

Richard Glover, die uitvoerende hoof van Tennis Suid-Afrika (TSA), stem saam dat dit “noodsaaklik is om so gou as moontlik na georganiseerde aktiwiteite terug te keer”.

“Ons het begin om ons afrigters op te voed oor die streng maatreëls rondom gesondheid, veiligheid, higiëne en sosiale afstand wat ons met onmiddellike effek sal instel,” het hy gesê.

Glover het gesê TSA is, soos talle ander federasies, weens die aankondiging Donderdag van die regulasies met meer vrae as antwoorde gelaat.

Die gholfbedryf hoop die minister van sport sal Saterdag aankondig dat die bane weer mag oopmaak, sodat hul werkers kan terugkeer. Foto: Getty Images

“Ons een groot vraag is hoe die term ‘beroepsatlete’ gedefinieer word. In sporte soos tennis en gholf is daar amateurs op ’n hoëprestasie-vlak en semi-professionele atlete, so wat van hulle? En natuurlik is ons baie bekommerd oor ons tegniese beamptes, skeidsregters en toernooi-direkteurs, want niemand van hulle kan onder die huidige regulasies werk nie.

“Dis natuurlik goeie nuus dat toernooie weer toegelaat sal word, maar dit word nie in ’n oogwink gereël nie. Atlete het ’n goeie ses weke nodig om weer gereed te wees vir kompetisies, want onthou, hulle was nou weke lank in inperking en kon nie soos normaalweg oefen nie. En ons het ook steeds reisbeperkings om in ag te neem.”

Grant Hepburn, die uitvoerende hoof van GolfRSA, het gesê hulle is 100% seker dat die gholfbedryf goed voorberei is om weer sy deure oop te maak. Gholf se ringkoppe het regdeur die inperking hard gewerk aan voorleggings wat motiveer waarom bane weer oopgestel sal word, met groot klem op die aantal persone wat in die bedryf werk, die sosiale afstand wat in die sport gehandhaaf kan word en die positiewe impak van gholf op mense se gesondheid en geestestoestand.

“Gholf is gesonde oefening vir mense van alle ouderdomme en ’n uitstekende stresverligter – boonop in die buitelug, in ’n oop ruimte. Die veilige terugkeer van ons gholfspelers na bane sal duisende mense se werk red, asook talle fasiliteite wat ’n groot bydrae tot die ekonomie en liefdadigheid maak,” het Hepburn gesê.

Meer oor:  Sportfederasies  |  Finansies  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.