Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Lamati wen titel teen rateltaai Mexikaan
Ludumo Lamati gesels ná sy oorwinning oor Jose Martin Estrada Garcia met Brian Mitchell in die kryt. Foto: Facebook

’n Mens kan Ludumo Lamati verskoon as hy die volgende paar nagte half histeries wakker skrik ná nóg ’n nagmerrie waarin die Mexikaanse bokser Jose Martin Estrada Garcia hom met ’n bebloede glimlag aangluur.

Hoewel Lamati Saterdag by Emperors Palace in Kempton Park sy geveg om die vakante junior-veergewigtitel van die Internasionale Boksorganisasie teen Garcia gewen het, was dit nie maklik nie.

Dit het bloedsweet gekos, want Lamati moes diep delf om Estrada in een van die beste krytoorloë wat in jare in die land gesien is, met punte oor 12 rondes te verslaan.

Lamati het die eerste rondes oorheers. Hy het Garcia met kombinasies getref, maar die rateltaai besoeker het net geglimlag en dan self laat waai met houe van sy eie.

Garcia, wat nie eers tussen rondes gesit het nie, het algaande die oorhand begin kry.

In die laaste twee rondes het dit gelyk of Lamati uitgeslaan gaan word.

Hy het egter vasgebyt en het danksy sy groter werkverrigting in die eerste rondes met punte gewen.

Albei boksers was bebloed toe die einde van die geveg aanbreek. Wat onheilspellend was, was dat dit toe gelyk het of Garcia nóg 12 rondes kon baklei.

Ons het in die negende ronde koppe gestamp en hy (Garcia) het my direk daarna met ’n opstopper getref en van toe af kon ek niks uit my linkeroog sien nie.
Ludumo Lamati

“Ek het daarop gekonsentreer om punte in te samel. Ons het in die negende ronde koppe gestamp en hy (Garcia) het my direk daarna met ’n opstopper getref en van toe af kon ek niks uit my linkeroog sien nie,” het Lamati ná die geveg aan Brian Mitchell van SuperSport gesê.

In die hoofvoorgeveg het Thulani Mbenge sy weltergewiggeveg teen Jabulani Makhense met ’n tegniese uitklophou in die derde ronde gewen.

Thulani Mbenge

Die klap wat Mbenge se afrigter Sean Smith hom agter die kop gegee het om hom met die oorwinning geluk te wens was harder as enigiets wat Makhense hom gedurende die geveg mee kon tref.

O wag, Makhense, self ’n talentvolle bokser, het per ongeluk Mbenge se lip in die eerste ronde met sy kop oopgestamp!

Die junior-middelgewigte Brandon Thysse en Roarke Knapp het hul gevegte ook met uitklophoue gewen.

Knapp het Benoit Vela in die twee ronde van hul geveg só slae gegee dat die Kongolees nie vir die derde ronde wou uitkom nie.

Thysse het op sy beurt vir Tomi Silvennoinen van Finland in die tiende ronde met lyfhoue verwoes.

Die herontmoeting tussen Johnny Muller en Akani Phuzi het soos déjà vu gevoel met Muller wat weer meer houe geslaan het om met punte te wen.

Twee beoordelaars het die geveg met reg met 97-93 aan Muller toeken met nog een, Simon Mokadi, wat gedink het Puzi het met 96-94 gewen.

Hoe Mokadi by daardie telling uitgekom het, sal net hy weet.

Hoe Mokadi by daardie telling uitgekom het, sal net hy weet.

Ander uitslae: Middelgewig: Phikelelani Khumalo wen met punte oor vier rondes teen Chris Gouws; Nelson Mbhele wen met punte oor vier rondes teen Thando Mali. Swaargewig: Wilhelm Nebe slaan JP Steenkamp in die eerste ronde uit. Junior-middelgewig: Shervontaigh Koopman wen met punte oor ses rondes teen Jacques Muvud.

Meer oor:  Suid-Afrika  |  Mexiko  |  Boks  |  Titelgeveg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.