Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Lance staar dagvaarding van $100 m. in gesig

’n Regter het Maandag die groen lig gegee vir ’n dagvaarding deur die Amerikaanse regering, wat skadevergoeding van nagenoeg $100 miljoen by die gevalle fietsryheld Lance Armstrong eis, om voort te gaan.

Lance Armstrong het in ’n TV-onderhoud in 2013 gebieg dat hy onderweg na sy sewe Tour-seges verbode middels gebruik het. Foto: Getty Images

Die Amerikaanse departement van justisie kla Armstrong daarvan aan dat hy bedrog gepleeg het deur miljoene dollars by die Amerikaanse posdiens (USPS) te aanvaar terwyl hy verbode middels gebruik het.

Hy het sy sewe Tour de France-titels verower terwyl hy die USPS-fietsryspan verteenwoordig het.

Armstrong is in 2012 van sy al sy titels gestroop en lewenslank uit fietsry geskors nadat hy deur die Amerikaanse agentskap teen die gebruik van verbode middels (Usada) in ’n verdoemende verslag as die argitek van ’n gesofistikeerde opkikkerprogram uitgewys is.

Reuters berig Nicole Navas, woordvoerder vir die departement van justisie, het geweier om oor die saak kommentaar te lewer.

Eliot Peters, regsverteenwoordiger vir Armstrong, wou nie kommentaar lewer nie.

Armstrong, wat lank sy skuld ontken het, het in ’n TV-onderhoud in 2013 gebieg dat hy onderweg na sy sewe Tour-seges wel ’n rits verbode middels gebruik het.

Armstrong het in 2005 sy sewende agtereenvolgende Tour de France-titel beklink. Foto: Getty Images

Sy voormalige spanmaat Floyd Landis het aanvanklik in 2010 die dagvaarding teen Armstrong gebring, voordat die departement van justisie hom in Februarie 2013 by die saak aangesluit het.

Armstrong, wat aanvoer die USPS se voordele oorskry sy uitgawes aan borgskap, het probeer om die saak te beslis deur ’n summiere uitspraak in April 2016.

“Weens die regering se sterk bewyse dat Armstrong inligting oor sy span se gebruik van verbode middels weerhou het en die opkikker-klousule in die USPS se borgskapooreenkoms, beslis die hof dat Armstrong se versoek om die saak deur ’n summiere uitspraak te beslis, te weier,” het regter Christopher Cooper Maandag in sy uitspraak gesê.

Die USPS het van 2000 tot 2004 ongeveer $32,3 miljoen aan Armstrong se fietsryspan, die nou vervalle Tailwind Sports Corp, uitbetaal om voordeel te trek uit Armstrong se Tour de France-seges en sy “boeiende lewensverhaal”, het Cooper in sy uitspraak gesê.

Die regering het die skadevergoeding op drie keer die bedrag uitgewerk. Landis staan te beurt om sowat 25% van die bedrag wat die regering invorder, te eis.

Paul Scott, ’n regsverteenwoordiger vir Landis, het aan Reuters gesê: “Ons sien uit na die dag binnekort wanneer ons hierdie saak aan ’n jurie kan stel.”

– Reuters

Meer oor:  Lance Armstrong
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.