Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Langeraat van Jamaika spel gevaar vir SA

Suid-Afrika se beste verdedigende kombinasie word Sondag weer herenig wanneer hy in sy eerste netbaltoets van die jaar teen Jamaika te staan kom.

Phumza Maweni (hoofverdediger) en Karla Pretorius (hulpdoelverdediger) dek die Proteas se agterhoede. Hulle speel ook saam vir die Sunshine Coast Lightning in Australië en word beskou as een van die beste kombinasies in wêreldnetbal.

Shimona Nelson (regs) benut haar lengtevoordeel in die Nieu-Seelandse Superklub-toernooi verlede jaar. Foto: Getty Images

Saam met Shadine van der Merwe op die verdedigende vleuel is hulle dorings in die vlees van menige teenstander.

Maar hoe gemaak op die aanval? Die Proteas het in hul reeks teen Engeland einde verlede maand ietwat kleigetrap in dié afdeling.

’n Mens sal dus wil sien met watter aanvallende kombinasies hulle die Jamaikane gaan probeer troef.

Dumisani Chauke (hulpafrigter) en Dorette Badenhorst (afrigter). Foto: Gallo Images

Suid-Afrika en Jamaika se toets in die Nasiesbeker in Nottingham, Engeland, is die eerste van die nuwe internasionale seisoen.

Dorette Badenhorst, die SA afrigter, besef die Sunshine Girls het lang spelers in hul aanvallende en verdedigende sirkels.

“Ons sal ons balbesit moet behou én gedissiplineerd op die verdediging wees sodat ons hul bal kan afneem voordat dit in hul sirkel beland,” sê Badenhorst.

Die Proteas se Phumza Maweni in aksie teen Eleanor Cardwell van Engeland in November se toetsreeks. Foto: Gallo Images

Jhaniele Fowler, Jamaika se kaptein, is ’n ervare doelskieter, maar Shimona Nelson (1,95 m) spel groter gevaar. Dié 21-jarige het einde verlede jaar vir die Collingwood Magpies in die Superklub-toernooi in Nieu-Seeland met ’n doelgemiddelde van 91% gespog.

Die Proteas het die Sunshine Girls in Julie se Wêreldbeker-toernooi met drie doele (55-52) geklop, maar Jamaika het steeds die oorhand met 12 oorwinnings teenoor drie.

Jamaika is vierde op die wêreldranglys en Suid-Afrika vyfde.

* Dinsdag wag Engeland in Birmingham en volgende Saterdag Nieu-Seeland in Londen.

* Protea-groep: Ine-Marí Venter, Lenize Potgieter, Lefébre Rademan, Sigi Burger, Bongiwe Msomi (k), Izette Griesel, Romé Dreyer, Khanyisa Chawane, Phumza Maweni, Shadine van der Merwe, Zanele Vimbela, Karla Pretorius.

* TV: Sondag 16:30 (SS 10).

Meer oor:  Netbal  |  Suid-Afrika  |  Jamaika  |  Dorette Badenhorst
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.