Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Le Clos betower deur tienersterre

Met vier Olimpiese medaljes reeds agter sy naam sou ’n mens nie dink daar is veel wat Suid-Afrika se Chad le Clos sommer nog kan ontsenu nie, maar tog is hy by die onlangse nasionale swemkampioenskap deeglik op sy tone gehou.

Chad le Clos in die 100 m-vlinderslag by die Suid-Afrikaanse swemkampioenskap, wat verlede week in die Baai gehou is. Foto: Gallo Images

Le Clos, wat ’n Olimpiese goue medalje en drie silwermedaljes in sy trofeekas het, moes in Gqeberha (Port Elizabeth) op sy stukke wees, met ’n rits tieners wat die 29-jarige hardebaard tot die uiterste beproef het.

Tog kan hy net liries raak oor jongelinge soos die 16-jarige Pieter Coetzé en die 17-jarige Matt Sates en Ethan du Preez.

Le Clos het sy nasionale aanslag met goud begin in die 50 m-vlinderslag, met Sates wat naasbeste was en Coetzé derde.

Coetzé, wat in die 100-rugslag vir die Spele gekwalifiseer het, het in die uitdunne van die 50-vlinderslag vir Le Clos hard laat werk met laasgenoemde wat ’n tyd van 24.14 geswem het, met die skoolseun net agter hom in 24.29.

Matt Sates ná die 400 m- individuele wisselslag. Foto: Gallo Images

“Ek het al honderde kere deelgeneem, maar niks maak my meer op my senuwees as die nasionale kampioenskap nie,” het Le Clos vertel.

“Ek dink die rede daarvoor is dat ek altyd as die groot gunsteling beskou word en almal verwag altyd dat ek alles moet wen, selfs al is dit die 50-rugslag, iets waarin ek glad nie spesialiseer nie.”

Ná die byeenkoms in die Baai weet hy egter nou presies wie om dop te hou.

“Om eerlik te wees, ek het nie eens geweet wie Pieter Coetzé was voor daardie 50-vlinderslag nie,” het Le Clos bygevoeg.

“Ek het gedink ‘wie op dees aarde is hierdie seun wat langs my in 24.29 sekondes klaargemaak het’. Hy is ’n groot seun en ek het nie besef hy is só jonk nie.”

Oor daardie geskiedkundige 200-vlinderslag, waar Le Clos en Du Preez vir die Spele gekwalifiseer het – die eerste keer dat twee Suid-Afrikaners in dié item kwalifiseer – sal hy nog lank dink.

Ethan du Preez in aksie in die 100 m-vlinderslag. Foto: Gallo Images

“Die 200-vlinderslag was ongelooflik. Dit was ’n naelbyter en ek was goed op my senuwees. Ek sal dit waarskynlik beskou as een van die items waaroor ek nog die meeste ooit gestres het suiwer omdat Ethan my vroeër by ’n Grand Prix-byeenkoms geklop het,” sê hy.

“Ek moes my taktiek in die resies verander, maar ek is ook net só bly dat Ethan ook gekwalifiseer het. Dis fenomenaal.”

Dan was die 200-vryslag een waar hy geheel en al onkant betrap is deur die jong Sates, wat hom geklop het.

“Ek is verheug vir hulle, maar natuurlik teleurgesteld in my eie vertoning. Ek gaan nie hier sit en maak asof ek nie omgekrap was nie, maar dit kon wel nie aan iemand gaan wat dit meer verdien het (as Sates) nie.”

Le Clos het boonop die heuningkwas vir Tatjana Schoenmaker uitgehaal, wat een van die grootste uitblinkers was met titels en Afrika-rekords in die 50-, 100-, en 200-borsslag.

“Ek het lankal gesê Tatjana kan nie onderskat word nie. Ek dink sy is goed genoeg om enigiemand ter wêreld te klop,” sê hy.

“Ek dink sy kan ’n wêreldrekord verbeter. Sy het baie gegroei en die afgelope drie jaar as swemmer volwassenheid bereik.”

Nou sal Le Clos se fokus na die Tokio-skouspel skuif waar hy weer sy goue vertoning in Londen in 2012 sal wil nadoen.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.