Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Lekband ‘laat Hamilton se hart byna staan’
Met byna niks meer velling oor op sy linker-voorband nie, het Lewis Hamilton groot geluk aan sy kant gehad toe hy Sondag die Britse Formule Een Grand Prix op Silverstone gewen het. Foto: Reuters

In sport word daar gesê jy skep jou eie geluk.

Sondag op Silverstone het Lewis Hamilton (Mercedes) die geluk aan sy kant gehad toe hy die Britse Formule Een Grand Prix ’n sewende keer gewen het.

Hamilton het eerste geëindig ondanks ’n lekband wat sy renmotor in die laaste rondte opgedoen het.

Hamilton, met ’n linker-voorband byna sonder velling, het hinkende pinkende oor die eindstreep gejaag.

Hamilton, met 88 punte, het met sy oorwinning sy voorsprong op die puntelys bo sy Mercedes-spanmaat, Valtteri Bottas (58), tot 30 vergroot.

Red Bull se Max Verstappen was tweede, nadat hy kort voor die einde in die kuipe aangedoen het om bande om te ruil om die vinnigste rondtetyd (en slegs een bonuspunt) in te samel.

Ferrari se Charles Leclerc was derde, ’n pluimpie vir ’n span wat erg sukkel.

Lewis Hamilton vier sy oorwinning op die podium. Foto: Reuters

Bottas, wat deurentyd tweede was, het ook ’n lekband opgedoen wat hom tot 11de gedwing het.

“Ek het nog nooit so iets teëgekom in die laaste rondte nie,” het Hamilton ná die tyd gesê.

“Tot en met die laaste rondte was alles klopdisselboom,” het die sesmalige wêreldkampioen gesê.

“Die motor en bande het baie goed gevoel. Ek het gehoor dat Bottas se band die gees gegee het. Ek het na myne gekyk en alles het reg voorgekom.

“Die motor het maklik hanteer. Ek het begin afskaal, maar toe ek in die pylvak kom, het die band pap geraak. My hart het in my skoene gesak . . . ek het net gebid dat ek die ren kon voltooi en dit nie te stadig sou wees nie. Dankie aan God.”

Die oorwinning was Hamilton se 87ste loopbaansege en hy is nou net vier oorwinnings duskant Michael Schumacher se rekordgetal van 91 oorwinnings.

Verstappen sê sy tweede plek was goeie en slegte nuus, maar gedane sake.

Aan die einde het sy ingenieur hom oor die radio laat weet “hy (Hamilton) is ’n baie gelukkige ou.”

Carlos Sainz jr. se McLaren het ook ’n lekband opgedoen. Foto: Reuters

• Voor die ren is Nico Hulkenberg se drome beëindig toe sy span nie sy Racing Point-motor aan die gang kon kry nie.

Dié ervare Duitser het juis ingestaan vir Sergio Perez nadat die Mexikaan Vrydag positief getoets het vir Covid-19.

“Ek is verslae, heeltemal platgeslaan,” het Hulkenberg gesê terwyl hy die ren sien ontplooi het.

• Mercedes is los voor op die kampioenskapspunteleer met 146 punte, gevolg deur Red Bull (78) en McLaren (51).

• Daar is Sondag nog ’n F1-ren op Silverstone – die 70ste herdenking van Grand Prix’s. – Reuters

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.